#1 Grenslose gesprekke: Kunsuitstallings open

Vir die 30ste bestaansjaar van die KKNK is die mikpunt om ’n visuelekunste-aanbod saam te stel wat die geskiedkundige aspekte van die dorp en fees huldig, terwyl dit ook na die toekoms reik.

Apple

Onder ’n groen appelboom krap Adam (’n knorrige realis) en Steve (’n uitbundige, emosionele optimis) hul pad uit die grond uit en die wêreld van ontdekking binne.

Atropa: Die wraak van vrede 

In ’n wêreld verskeur deur oorlog, ongelykheid en die nalatenskap van kolonialisme, tref Atropa soos ’n pyl in jou vlees. Die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye se herbesinning oor die Trojaanse Oorlog is nie net ’n hervertelling nie – dit is ’n radikale aanklag teen die hedendaagse magsug, patriargie en die politiek van geweld.

Badtyd

’n Ou wil maar net sy uitstap mooi maak. Toe hy gebore is, in die bad geverf met muf, het hulle sy ma kom haal. Vandag, jare later, is hulle terug. Dis weer badtyd.

Blitsteater

As ons enigiets laasjaar by Blitsteater geleer het, is dit dat kort teaterwerke jou net so hard kan tref soos ’n lang toneelstuk – soms vinniger! Agt uiteenlopende 20-minuut-blitsvertonings vorm deel van hierdie jaar se aanbieding.

Boesman en Lena

Boesman en Lena is twee hawelose randfigure – uitgelewer aan mekaar, die elemente en ’n politieke bestel wat hulle nie ag nie. Athol Fugard se ikoniese stuk bied ’n boeiende blik op die kompleksiteit van verhoudings en maatskaplike ongeregtigheid.

Brousels en baksels

Die storie van ’n ongenaakbare, maar vrugbare land – spiritualieë gebore uit die hart van die Karoo en gevorm deur die karakter van sy mense.

CRYBABY

Op ’n doodgewone oggend, by ’n doodgewone dagsorg, beleef die driejarige Samuel die onkeerbare verwoester van onskuld – die nuus. Hy verander in ’n oogwink: Van ’n doodgelukkige kind na ’n moeë volwassene, dekades verouder deur haglike hoofopskrifte, tragiese gebeure en die lot van die mensdom wat hopeloos te swaar is vir sy nuwe skouers om te dra.

Deep Heat

Hedda moes douvoordag vlug van die polisie en die stad. Sy het niemand gehad om te bel nie, behalwe haar broer, Gizz. Deur die loop van ’n oggend vind ons uit hoe Hedda en Gizz daar beland het waar hulle wegkruip in ’n pondokkie op ’n Karooplaas.

Déjà vu

Zabeth Meyer beland op Kronkelrivier om navorsing vir die krimiskrywer Wilbur Sheldon te doen. In sy skatryk familie se Victoriaanse herehuis, Sheldon Manor, kom sy al hulle vreemde tragedies en intriges teë: Eers verdrink die oudste Sheldon-kleinkind, en ’n paar jaar later sterf sewe Sheldons op een dag.

Die ander dogter

’n Tienjarige dogter vind toevallig uit van ’n suster wat twee jaar voor haar geboorte oorlede is. Dié dogter was die Franse skrywer Annie Ernaux, wat in 2022 die Nobelprys vir letterkunde ontvang het.

Die avonture van Helga Roets

Helga Roets is dalk aan die verkeerde kant van 80, maar jy kan haar steeds deur ’n ring trek, elke dag van die week. Sy woon nou al amper vyf jaar in die Silwerhare-aftreeoord in Pretoria, en hoewel die aanpassing swaar was, voel sy deesdae tuis in haar blyplekkie.

Die gebed van ’n halfmens

Op ’n stortingsterrein buite Oudtshoorn wag ’n voorspelling van waarheen die mensdom dalk op pad is. Dié drama ondersoek die impak van tegnologie: Skouspel of gruwel?

Die Karoo Kunslied

Die Karoo Kunslied ondersoek hoe poësie, die landskap en musiek saamvloei in die Afrikaanse kunslied. Met die musiek van vroeë komponiste soos S. le Roux Marais en Pieter de Villiers tot hedendaagse meesters soos Franco Prinsloo, word die Suid-Afrikaanse landskap in klank vasgevang.

Die Onderhoud met Wicus Pretorius

Die aktualiteitsprogram Wie’s Nuus? met Netwerk24 op kykNET bring ’n gespreksreeks na die KKNK wat gratis aangebied word. Wicus Pretorius, wat tans waarneem as aanbieder (in Mia Spies se plek), lei dié gesprekke in die Netwerk24-feeskafee.

Die vuur huil

In die vroeë 1970’s onderneem die 21-jarige Jakob Koetaan ’n lewensveranderende reis van die Baai na Kaapstad – ’n stad wat hom sedert sy kinderjare gelok het.

Dom, PasOp!

Welkom in die lewe van ’n Cheese Boy. Hy is ryker as meeste swart ouens en sy sak is platter as meeste wit ouens … Net sag genoeg om van albei kante die brak se byt te voel.

Een keer om die son: Die klankbaan

Die klankbaan van die gewilde kykNET-drama Een keer om die son word na die verhoog gebring. Ervaar die musiek van albei seisoene, sowel as die stories wat hierdie reeks en musiek geïnspireer het.

Emotional Black Male

Emotional Black Male is ’n skreeusnaakse, hartroerende komedie soos bedink deur Uncool Tea, die sagmoedigste hardgebakte man wat jy ken. In hierdie uur van emosionele chaos (én helderheid) takel hy toksiese manlikheid, township-teerheid en terapie, met ’n mikrofoon in die een hand.

Excerpts | Uittreksels

’n Versameling monoloë wat die dekades-oue onderwerpe van Westerse inmenging, sielkundige kondisionering en sensuur, deur ’n Kaapse lens ondersoek.

Feesmark se musiekverhoë: 1 April

Fees voluit van vroegdag by die KKNK se meer intieme dagverhoog om jou in die regte luim te kry vir ’n groot partytjie op die Feesmark-verhoog tot laat. Heerlike eetgoed en iets koud om te drink is ook nooit te ver weg nie.

ge-gebergtes

’n Paar dae ná sy 90ste verjaarsdag word ’n emeritus professor oorweldig deur die lewe. Dit was ’n Saterdag, die Springbokke sou die middag speel, en sy rekenaar, foon, niks wou werk nie, alles het net te veel geraak.

Geagte kampeerders

Wynand van Vollenstee is Oom Frik, opsigter, eienaar en bestuurder van die Willewaters Kampeerterrein. Thiart Li vertolk die rol van Oom Frik se lojale regterhand, Henry. Elke Desember staan hulle slaggereed om die groot gros Transvalers te ontvang.

Gebou soos Steffi Graf

Ná al die vreesaanjaende berigte oor Wilgenhof het ek angs en trauma uit my jare in Die Plek probeer onthou, maar ál wat my geheue kon baasraak, was flitse van fantastiese partytjies.

Haasvoël

Welkom by die Nasionale konferensie van skaars spesies. Op vandag se agenda: Die bespreking en ontleding van die Haasvoël in sy natuurlike habitat.

Hartsbriewe

Maak gereed vir ’n reis terug in tyd in hierdie vertoning deurdrenk met nostalgie, warmte en die sagte fluisteringe van liefde in al sy gedaantes.

Historiese skattejag en skets

Ontdek die geheime van die volstruishoofstad in hierdie skattejag-avontuur waar jong ontdekkers die ryk geskiedenis en van die argitektoniese skatte van Oudtshoorn kan ontrafel. Elke leidraad het ’n nuwe storie, ’n nuwe raaisel en ’n kans vir jou span om te wen.

Hoort

’n Semi-outobiografiese kabaret wat jou laat lag, huil en met nuwe oë na jou eie storie laat kyk. Dit vertel die verhaal van Stephanie, die dogter van twee pastore, wat haar plek in die wêreld soek te midde van haar gemengde agtergrond en ons komplekse geskiedenis.

Hou die wêreld vas

’n Jong seuntjie moet die hele wêreld vashou. En al is hy bang, is hy bereid om alles van grootword te leer. Op sy kleurvolle avontuur leer hy die belang van verbeelding, vriendskap en braaf wees.

Jakob

Jakob is ’n meesleurende verhaal oor ’n vreemde klein seuntjie – en oor liefde, lig en alles wat daar tussenin weerkaats. Dit is die verhaal van ’n kind wat anders gebore is en verstoot word deur die gemeenskap waarin hy leef.

Jammer vir die podcast

Ná twee dekades van die mikrofoon vashou, het Hannes Brümmer, soos ’n wafferse loods, sy ure opgebou en sy twakpraatlisensie verdien – en nou kan die gehoor vertrou dat hulle veilig met hom aan die stuur is.

Kafka’s Ape

Kafka’s Ape is ’n meedoënlose, ontstellende belydenis van ’n voormalige aap wat uit sy hok ontsnap het deur te leer om “beskaafde” mense na te boots. Vasgevang in ’n pak en met foutlose taalgebruik, doen Red Peter verslag aan ’n akademie wat hom ontleed soos ’n proefkonyn, terwyl hulle terselfdertyd sy “vordering” toejuig.

Kattekwaad en Koekeloer

Dis heeltyd speeltyd in ’n wêreld van kattekwaad en koekeloer. Woeps en Waps is onwaarskynlike maats. Waps kruip weg in haar verbeeldingswêreld en Woeps is ʼn beterweterige babbelbekkie. Terg en pret om elke hoek en draai ontwikkel in ’n eindelose verbeeldingsreis vol speel, deel en verken.

Kurt Schoonraad: Funny Side Up

Na uiters suksesvolle optredes by die Baxter-teater in Kaapstad en Montecasino in Johannesburg, kan Oudtshoorn gereed maak vir ’n skaterlag-ervaring met een van Suid-Afrika se bekendste en invloedrykste komediante, Kurt Schoonraad.

LAPA Lekkerleesminuut

Kuier elke dag om 11:30 saam by die Klein KKNK-teater. Bekendes in die vermaaklikheidsbedryf lees voor uit van LAPA se bekendste kinderboeke en lekker boekpryse kan gewen word.

Liewe Heksie word ‘gescam’

Liewe Heksie het ’n prys in ’n talentkompetisie gewen. Karel Kat wil haar leer om mooi na haar prysgeld te kyk. Haai oe, maar groot woorde soos finansies, rente en begrotings, of is dit nou bekleinings, laat Levinia se kop draai.

Lize Beekman: Tussen hier en daar

Sanger-liedjieskrywer Lize Beekman is terug! Met haar nuwe album en vertoning, Tussen hier en daar, staan sy die kollig vol met van die mooiste melodieë en lirieke in Afrikaans uit haar kenmerkende skryfpen.

Luna Paige: Die reisigers

Luna Paige sing oor die “groot reis” en die immer ontwykende eindbestemming. Sy verken ruimtes waar beweging, stilte van gees, selfliefde en aanvaarding harmonie bring.

Markus (en die brandblusser op die derde verdieping)

Op die derde verdieping van die Koekmuseum sit Markus met ’n sigaret in die hand. Hy is pas van sy angsmedikasie af en verwerk die afgelope drie jaar van sy universiteitsloopbaan met die hulp van ’n brandblusser.

Mathys Roets: Songs of Leonard Cohen

Mathys Roets is een van die min kunstenaars in Suid-Afrika wat reg laat geskied aan Leonard Cohen se musiek. Ingesluit is van sy gewildste liedjies, van “Famous Blue Raincoat” en “Suzanne” tot “Hallelujah” en van die laastes wat Cohen opgeneem het.

Met die maan gepla

’n Muis wat nog nooit kon droom nie, begin wonder oor die maan. Wat volg is ’n klein verhaal oor groot drome en die dinge wat ons laat opkyk. ’n Visuele, hartroerende storie vir oud en jonk.       

Miniatuur-herinneringe: ’n Borsspeld-werksessie

Elke borsspeld dra ’n storie, joune ook. In hierdie kreatiewe werksessie maak deelnemers twee miniatuur-kunswerke: Een teks-gebaseerde borsspeld (’n woord, kort sin of frase) én een beeld-gebaseerde borsspeld, soos ’n klein landskap, portret of abstrakte vorm.

Olifant-en-ontbyt-ervaring

Geniet ’n buffet-ontbyt in die restaurant en beleef ’n wonderlike ervaring saam met die drie grootpote, Malaika, Bulelo en Jabari. Word meegevoer deur die aangrypende verhaal van drie wees-Afrika-olifante wat ’n gelukkige tuiste by Buffelsdrift Game Lodge gevind het.

Olyf tot olyfolie

Hierdie toer en proe bied ’n warm, vriendelike en leersame ervaring waar deelnemers leer hoe olywe geoes en olyfolie verbou en vervaardig word. Of jy nou ’n fynproewer van olyfolie is of nie – dit is ’n fantastiese toer vir elkeen wat meer van die bekende De Rustica Olive Estate wil sien.

Opera Blocks: Under the Sea

Kaapstad Opera se betowerende Opera Blocks is ideaal om peuters en jong kinders bekend te stel aan die wêreld van opera en klassieke musiek.

Play Things

Die opwindendste vertoonvenster vir nuwe werk. Play Things is Suid-Afrika se gunstelingruimte vir nuwe werk. Monoloë, sketse, towerkuns, komedie, teksvoorlesings, narrespel en meer.

Please, Don’t Call Me Moffie

Nadat hulle ’n aanlyn video van ’n brutale, homofobiese aanval in ’n onbekende Arabiese land gesien het wat wyd versprei is, reageer vyf jong, bruin mans daarop en deel hul ervarings van hoe dit was om queer groot te word en hoe hulle met godsdiens en hul identiteit geworstel het.

Police Cops: The Original

’n Wêreldklas-trefferkomedie – vir die heel eerste keer by die KKNK! Maak gereed vir ’n verregaande, oordadige ervaring wanneer die internasionaal hoog aangeskrewe, veelbekroonde Police Cops die verhoog in volle vaart tref. Die vooraanstaande Britse komiese trio herbesoek die treffer waar dit alles begin het – dit is tyd vir herlaai, maar groter en snaakser as ooit.

Rescue Remedy

Niemand het ’n gemaklike verhouding met hul pa nie. Rescue Remedy is ’n queer kind se skreeusnaakse, tragiese poging om hul kragdadige pa halfpad te ontmoet. Letterlik, op die N2.

Sade in Hollandse kombuise

Susan, ’n jong Suid-Afrikaner wat in ’n Afrikaanse huis gebore is maar net Engels praat, gaan op ’n soektog na haarself. Is sy ’n “Boeremeisie”? Nie as sy dit kan verhoed nie. Maar wat is sy dan? Watter sade groei in haar en watter dele van Afrikaans het wortelgeskiet?

Seun

Dana Snyman deel in Seun die deel van sy storie waaroor hy nog nooit gepraat het nie: sy ervarings in die 1980’s. Dit is die tyd van P.W. Botha se vinger, die Voëlvry-toer, AWB-saamtrekke, onderhandelings en die laaste dae van diensplig.

Skandalig

Fees voluit tot laatnag by Skandalig. Verwag hope musiekverrassings en lekker kuier, die perfekte manier om jou feesdag af te sluit (of te begin).

Skorpio

Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang die blye tyding dat hulle uiteindelik weer bevorder is tot die rang van kaptein. Maar hulle vreugde is van korte duur.

SOOIBRAND

Nataniël se nuwe vertoning, SOOIBRAND, is ’n intieme en musikale huldeblyk aan ligte ongemak, diepe skuldgevoelens, mediese skokke en volgehoue ontkenning.

Sterrekyk in die Klein Karoo

Ervaar die betowerende skoonheid van die Klein Karoo-naghemel saam met Night Sky Tours. Stap onder die uitgestrekte, sterverligte hemel en ontdek ’n wêreld van stilte, helderheid en kosmiese verwondering.

Suikerkoekie-versierklasse

Wou jy nog altyd leer om suikerkoekies kreatief te versier en jouself ’n bietjie uit te daag? Hier is jou kans. Leer die basiese tegnieke van “flooding”, “wet on wet” en “wet on dry” onder leiding van Marita Lamprecht.

Te Heerlik: Tee-en-smaak-ervaring

’n Intieme smaak-ervaring in die hart van Oudtshoorn, waar die verhale en geure van die Klein Karoo ontmoet. Ontdek die ryk geskiedenis van rooibostee en ervaar vyf unieke tee-proeë wat perfek gepaard gaan met vyf handgemaakte smake uit Te Heerlik se winkel.

The Reservation

Jy word vanjaar uitgenooi om jou plek aan die tafel in te neem vir The Reservation – ’n gewaagde, meesleurende dansteaterproduksie wat ’n spieël vir ons sosiale gewoontes en begeertes voorhou. Hierdie gesinsvriendelike opvoering gaan beslis jou eetlus prikkel.

The Scullery Quintet: Stir-Fried Sonatas

Maak gereed om jou musikale sintuie te prikkel met The Scullery Quintet se genotvolle vertoning van hul veelbekroonde Stir-fried Sonatas. Dit is beslis nie ’n gewone klassieke konsert nie – dis ’n aanloklike mengsel van klassieke crossover-, jazz- en populêre musiek, wat beloof om jou ore te streel én jou waardering vir die buitengewone te prikkel.

The Ugly Noo Noo

In 1988 het Andrew Buckland, onder regie van sy vrou, Janet, ’n eenmanvertoning aangebied wat die landskap van Suid-Afrikaanse teater vir altyd verander het. The Ugly Noo Noo, geskryf en vertolk deur Andrew, vertel die verhaal van ’n man se ontmoeting met ’n insek.

Veer

Om te sterf, om te slaap – dis al wat oorbly. Niks anders nie. Wie weet watter drome jy dalk mag droom?

Verwelkingslied

In Breytenbach Breytenbach se laaste toneelstuk word ons op reis geneem deur die meester wat homself by sy eie begrafnis voorstel. Breyten tree hier in ’n bewussyn-verruimende asook intieme gesprek met ’n ou verhoogaktrise.

Visuelekuns-rondleidings

Sluit daagliks aan by verskeie kunstenaars vir ’n rondleiding van die visuele kuns by die 30ste KKNK. Tree in gesprek met verskillende kunstenaars en kurators. Elke dag besoek ’n ander uitstalling.

Vrou ens. 1.2

Mandri Sutherland (Vroudrie) keer vanjaar terug met Vrou ens 1.2. Dit handel oor die vrouens wat haar tot dusver, en steeds, definieer, kritiseer, irriteer, uitdaag en inspireer.

Vrou, vrouer, vrouste

’n Unieke en hartroerende produksie met ’n kragtige en kunsryke kombinasie van woordkuns, musiek en lewenservaring. Humor en emosie word haarfyn gebalanseer en neem die gehoor op ’n reis vol lag, trane, hoop en selfontdekking.

Wag, wat?

Rehearsal môre gewone tyd in die kerksaal. Ons het baie om deur te werk, so moet asseblief nie laat wees nie! Onthou jou water en goeie vibes! Kwaai

Wildehondekloof: Fynbos-fynproe

Wildehondekloof se gewilde fynbos-toer-en-proe word vir die tweede keer tydens die KKNK aangebied. Ervaar die wonder van die Klein Karoo se fynbos in kos. Ná ’n kort stappie in die veld om te kyk na die plante, keer deelnemers terug na die hoofhuis waar fynbos-gegeurde soute, asyn en tee geproe word.

With/Draw

Mense kom en mense gaan, maar familie is vir ewig … reg? Twee susters verlustig hulle in die vreugdes van hul verhouding, bou aan die band tussen hulle en skep saam herinneringe.

Wonderlike waarhede

Playback-teatertegnieke word ingespan om stories uit te speel wat deur ’n genooide gas en gehoorlede vertel word.