Ontdek die geheime van die volstruishoofstad in hierdie skattejag-avontuur waar jong ontdekkers die ryk geskiedenis en van die argitektoniese skatte van Oudtshoorn kan ontrafel. Elke leidraad het ’n nuwe storie, ’n nuwe raaisel en ’n kans vir jou span om te wen.
’n Jong seuntjie moet die hele wêreld vashou. En al is hy bang, is hy bereid om alles van grootword te leer. Op sy kleurvolle avontuur leer hy die belang van verbeelding, vriendskap en braaf wees.
Jakob is ’n meesleurende verhaal oor ’n vreemde klein seuntjie – en oor liefde, lig en alles wat daar tussenin weerkaats. Dit is die verhaal van ’n kind wat anders gebore is en verstoot word deur die gemeenskap waarin hy leef.
Wat word van al jou verlore sokkies? Vir elke liewe kas in die hele wye wêreld is daar ’n Kasmannetjie wat jou kas mooi netjies hou. Kasper, ’n trotse kaskadet, tesame met die sewe-en-’n-half-jarige rolskaatsende Blommie, waag haar kasdeure binne.
Dis heeltyd speeltyd in ’n wêreld van kattekwaad en koekeloer. Woeps en Waps is onwaarskynlike maats. Waps kruip weg in haar verbeeldingswêreld en Woeps is ʼn beterweterige babbelbekkie. Terg en pret om elke hoek en draai ontwikkel in ’n eindelose verbeeldingsreis vol speel, deel en verken.
Kuier elke dag om 11:30 saam by die Klein KKNK-teater. Bekendes in die vermaaklikheidsbedryf lees voor uit van LAPA se bekendste kinderboeke en lekker boekpryse kan gewen word.
Liewe Heksie het ’n prys in ’n talentkompetisie gewen. Karel Kat wil haar leer om mooi na haar prysgeld te kyk. Haai oe, maar groot woorde soos finansies, rente en begrotings, of is dit nou bekleinings, laat Levinia se kop draai.
Al ooit gewonder wat gebeur agter die zip van ’n potloodsakkie in ’n skooltas van ’n gr. 7-leerling op die eerste dag van ’n nuwe skooljaar? Kom ontmoet die ou skryfbehoefte-maats en sien hoe die toevoeging van nuwe, vreemde skooltoebehore die dinamika in die sakkie verander.
Mosa en Neo is beste maats wat mal daaroor is om saam kgati (touspring) te speel. Wanneer een van hulle skielik nie meer daar is nie, bly die ander een agter met gevoelens van hartseer, verwarring en onsekerheid oor hoe om sonder haar vriendin aan te gaan.
Die produksie is spesiaal vir babas (vanaf vier maande oud) en kleuters, geïnspireer deur jong kinders se verbeelding om enige tyd, enige plek en met enigiets te kan bel. Van kleins af is daar ’n diepgewortelde behoefte om te kommunikeer in ons ingeweef.
Met toeters en fluitjies en ’n gesig so mooi geverf, trap Zonkie ’n fiets vol fieterjasies en bederf. Daar is skoenlappers wat fladder in die wolke bo haar kop, en ’n boomhuis vol stories wat oopmaak as sy stop!