Die Karoo Kunslied ondersoek hoe poësie, die landskap en musiek saamvloei in die Afrikaanse kunslied. Met die musiek van vroeë komponiste soos S. le Roux Marais en Pieter de Villiers tot hedendaagse meesters soos Franco Prinsloo, word die Suid-Afrikaanse landskap in klank vasgevang. Die program wissel van klassieke toonsettings van Leipoldt en Boerneef tot die luisterliedjie-tradisie van die 1970’s, met werke soos “Toemaar die donker man” en “Kinders van die wind”. Die Karoo dien as emosionele en simboliese kern vir ’n klankreis deur verlange, identiteit en verbondenheid.