Op ’n doodgewone oggend, by ’n doodgewone dagsorg, beleef die driejarige Samuel die onkeerbare verwoester van onskuld – die nuus. Hy verander in ’n oogwink: Van ’n doodgelukkige kind na ’n moeë volwassene, dekades verouder deur haglike hoofopskrifte, tragiese gebeure en die lot van die mensdom wat hopeloos te swaar is vir sy nuwe skouers om te dra. CRYBABY is ’n absurde tragikomedie wat handel oor die tol wat dit eis om te lewe in ’n geldgierige wêreld waar alles in duie stort. Dit is terselfdertyd ’n liefdesbrief aan ’n mens se kinderjare en ’n onuitwisbare herinnering aan die een waarheid wat elke volwassene weet: Grootword is nie kinderspeletjies nie.