Vir die 30ste bestaansjaar van die KKNK is die mikpunt om ’n visuelekunste-aanbod saam te stel wat die geskiedkundige aspekte van die dorp en fees huldig, terwyl dit ook na die toekoms reik.
PLEK is die hoofuitstalling met nuwe werke deur elkeen van die KKNK se vorige feeskunstenaars, asook werke deur twee voormalige feeskurators vanaf 1996 tot nou. Hierdie omvangryke uitstalling bring ’n ongelooflike groep kunstenaars byeen in hierdie plek, die Klein Karoo, en is ’n uitsonderlike wyse om die 30ste fees te vier!
nomThunzi Mashalaba se interdissiplinêre kunsproses wentel rondom haar eie verhaal. Die skoonheid van die bladsy van ’n boek en die taal van ’n getekende lyn vorm die grondslag van haar werk.
Hierin fokus hy op die Nederlands-Suid-Afrikaanse kunstenaar Tinus de Jongh (1885-1942). De Jongh se skilderye, aldus Van der Merwe, is “tekenend van daardie hele genre van kitscherige landskapkuns waarmee ek grootgeword het en waaraan generasies van Afrikaners steeds verknog is”.
Ek wil ry tot waar dit reën ... stap deur strate met huise wat nog nooit gesluit was nie, ek wil met jou sit en gesels oor Bach in Afrikaans, oor die statige Audrey en ek wil weet dat jy weet dat dit reg is om waarde aan die goeie in die lewe te heg ...
Being Here for You is ’n uitreik oor ’n fisieke afstand heen. Dit is ’n samewerking tussen die Nederlandse kunstenaar Rita Hoofwijk en die Suid-Afrikaanse kunstenaar Hannah Loewenthal wat in 2020 begin het.
Besoek die galery vir ’n keurversameling kuns met ’n verskeidenheid bekende kunstenaars, onder wie Johan Coetzer, Hannetjie de Clercq, Glendine, Theo Kleynhans, Frieda van Zyl, Van Wessels en die juwelierswarekunstenaar Adele van Vuuren.
Die Spier Creative Block-versameling het oor die afgelope 21 jaar 30 000 oorspronklike kunswerke van meer as 400 opkomende en middelloopbaan-kunstenaars verkry.
Hierdie dokumentêr vertel die verhaal van Doornkraal, ’n werkende plaas in die Klein Karoo, deur die standhoudende verhouding tussen die grond, sy perde en die vroue wat dit nog te perd bestuur.
’n Uitstalling van ons reis na behoort, deur kleur. Ons is ’n groep vriende van die Tuinroete, wat vreugde vind om saam uit te stal, as ’n kollektiewe geheel. Ons gesamentlike liefde vir kuns het ons paaie oor tyd verweef, wat ons beter maak.
In hierdie evokatiewe uitstalling onderneem Frans Smit en Lasse Thorst ’n visuele en konseptuele uitruiling wat oor vastelande heen strek en artistieke tradisies uitdaag.
Kans Karoo herinner ons aan die skaars kans dat ons almal op dieselfde tyd lewendig is. Dit is ’n interaktiewe projek met fotografie, klank en tekstiel deur Hannah Paton, in samewerking met die Barrydale Hand Weavers.
Die uitstalling verken die merkwaardige samevloeiing van drie fotoversamelings en hoe dit insig bied in Oudtshoorn se sosiale, kulturele en ruimtelike geskiedenis tussen 1950 en 2010.
’n Verfilmde dans of ’n dansprent. “Lacuna” beteken “leemte” en sny spoor deur die ongevulde ruimtes van die brutalistiese argitektuur wat die danser omvou. Dit is ’n kinematografiese studie van lig en donker, sigbaar en onsigbaar.
’n Visuele gesprek tussen die Suid-Afrikaanse skilder Wonder Marthinus en die vrouekunstenaars Cendres Delort (Frankryk) en Sonia Martins Mateus (Frankryk en Portugal).
Elke jaar word ’n jong visuele kunstenaar genooi om tyd op Oudtshoorn deur te bring by die GO Kunstenaarsverblyf en werk te skep in dialoog met die plaaslike geskiedenis en landskap. Luxolo Witvoet, ’n Kaapse kunstenaar, is vanjaar hiervoor gekies.
’n Klankinstallasie met talle luidsprekers, digitale stemme en elektronika. Hierdie projek bestaan uit twee afsonderlike dele: Die omvattende klankinstrument wat geskep word en die ouditiewe werk self waarby ’n diepgaande element gevoeg word weens die omringende klank wat ’n mens omvou.
Hoe val die lig op dit waarna ons kyk en waar lê die skaduwees? Waar bevind ons ons in die realiteit? Waar begin ons wanneer ons probeer om die wêreld te verstaan?
Passage – a song. bring die Berlyn-gebaseerde kunstenaars Akinbode Akinbiyi (Nigerië) en Abrie Fourie (Suid-Afrika) byeen in ’n dialoog waarin hulle oor plek, herinnering en luister besin. Die projek het ontstaan in Desember 2021 tydens hul kunstenaarsverblyf te Operndorf Afrika – die operadorpie gekonseptualiseer deur Christoph Schlingensief en ontwerp deur Francis Kéré, naby Ziniaré, Burkina Faso.
Kurators Juria le Roux en Brahm van Zyl nooi gesoute landskapskilders om in gesprek te tree met die Karoo. Die visuele word gebruik as taal ... is taal.
Iris deur Richard John Forbes is ’n skildery in film, ’n huldeblyk aan die bewerkbare, ’n waarneming van tembaarheid, ’n eerbetoon aan die primordiale, wat staatmaak op instink, intense spiergeheue en ’n diep respek vir oorgeërfde kennis.
Lucas Heinen en Marisa Maré werk saam aan ’n plekspesifieke installasie in die C.P. Nel-museum se kloktoring, wat digitale en fisieke kunswerke met interaktiewe klanklandskappe kombineer.
Wolk is ’n reisende installasie wat oorspronklik geskep is vir die Spier Ligfees en nou te sien is in die wolklose Karoo. Hierdie innoverende kunswerk hergebruik plastiese waterbottels in ’n interaktiewe beeldhouwerk.
Die projek ondersoek die verplasing van mense, diere en water. Hierdie entiteite wat gewoonlik vrylik kan beweeg, word dikwels beperk, herlei of gekommodifiseer deur geskepte grense.
Sluit daagliks aan by verskeie kunstenaars vir ’n rondleiding van die visuele kuns by die 30ste KKNK. Tree in gesprek met verskillende kunstenaars en kurators. Elke dag besoek ’n ander uitstalling.