Jy word vanjaar uitgenooi om jou plek aan die tafel in te neem vir The Reservation – ’n gewaagde, meesleurende dansteaterproduksie wat ’n spieël vir ons sosiale gewoontes en begeertes voorhou. Hierdie gesinsvriendelike opvoering gaan beslis jou eetlus prikkel. Gevestig in die uitdagende wêreld van ’n bedrywige restaurant in die stad, bots borde en politiek, terwyl ’n à la carte-dis van beweging en betekenis bedien word. Dit is ’n ruimte waar vreemdelinge ontmoet, geliefdes stry en families herenig, terwyl kelners tussen werklikhede wals – ’n plek waar die kliënt altyd reg is … en die sjef altyd bedonderd. Dis ’n paradys vir smaakmakers, waar selfies flits en geregte blink.