Wildehondekloof se gewilde fynbos-toer-en-proe word vir die tweede keer tydens die KKNK aangebied. Ervaar die wonder van die Klein Karoo se fynbos in kos. Ná ’n kort stappie in die veld om te kyk na die plante, keer deelnemers terug na die hoofhuis waar fynbos-gegeurde soute, asyn en tee geproe word. Hierna word ’n ligte ete aangebied waarin fynbosgeure koning kraai. Tydens dié uitstappie leer deelnemers meer oor die medisinale waarde van die plaaslike fynbos, asook hoe om dit as ’n natuurlike alternatief te gebruik. Wildehondekloof is ongeveer 60 km buite Oudtshoorn geleë, waarvan die laaste 8 km grondpad is. Laat tussen 70 en 90 minute reistyd toe.