Visuele kuns praat met almal. Oud en jonk. Enige taal. Enige geloof. Enige kultuur. En dis ALLES gratis!
Vir die 30ste bestaansjaar van die KKNK is die mikpunt om ’n visuelekunste-aanbod saam te stel wat die geskiedkundige aspekte van die dorp en fees huldig, terwyl dit ook na die toekoms reik.
Grenslose gesprekke, oftewel Dialogues Across Place and Time, is die onderwerp van 2026 se visuelekunste-program. Ons leef in interessante tye van intense sosio-politieke uitdagings. Al hoe meer grense word geskep vir oënskynlike veiligheid, maar dit is meestal gedryf deur vrees vir die onbekende. Partykeer lei dit tot oorloë en byna altyd tot verhoogde wantroue en onmin.
Grenslose gesprekke is ’n strewe na ’n meer genuanseerde verhaal, een van veelvuldige perspektiewe waar nie al die rolspelers hoef saam te stem nie, maar waar almal aangemoedig word om saam te praat. Deur gesprekvoering en interaksie leer ken ons mekaar oor taal-, kultuur- en landsgrense heen, en meningsverskille dra by tot nuwe perspektiewe.
Een van die groot hoogtepunte is die uitstalling PLEK, wat al die vorige feeskunstenaars, van die tweede fees (in 1996) tot nou, terugbring na Oudtshoorn in ’n ongeëwenaarde visuele smorgasbord. Dit is ’n mylpaal-uitstalling met ’n indrukwekkende aantal kunssterre op die lys.
Vanjaar se feeskunstenaar, nomThunzi Mashalaba, is ’n kunstenaar wat die wêreld stil-stil oopbreek en van naderby bekyk, om dit dan weer stuk-stuk en op haar eie manier aanmekaar te sit. Die titel van haar uitstalling is So, I Let Silence Explain. Sy is ’n helder stem in die Suid-Afrikaanse kunswêreld en dit is ’n voorreg om ’n omvangryke uitstalling van haar werk by die KKNK te kan sien. Haar sensitiewe abstrakte werke is meditatiewe kleurvelde van tekstuur. Haar media wissel van tekstiel tot teken en installasie en dit skep ruimtes wat sagkens met die kyker onderhandel.
Daar is ’n groot visuelekunste-aanbod met baie plaaslike deelnemers, onder meer ’n omvattende skilderkunstentoonstelling, Praatland, onder kuratorskap van Juria le Roux en Brahm van Zyl van die buurdorp De Rust.
Aangesien die fokus op gesprekke is oor tyd en ruimte heen, is dit wonderlik dat daar ook verskeie aanbiedings van internasionale kunstenaars in samewerking met Suid-Afrikaners is. Deelnemers is onder meer van Duitsland, België, die Demokratiese Republiek die Kongo, Nigerië, Frankryk, Portugal en Denemarke. Daar is ook uitstallings wat saamgestel word uit die dorp se ryk argief, gesprekke tussen die verlede en hede – soos Karoo Kaarte se fotografie-uitstalling en Stof tot verhaal – ’n projek wat letterlik werk met die stof van die C.P. Nel-museum. Die aanbod sluit ook ’n dokumentêr, Doornkraal, uit die streek se geskiedenis in en ’n dansportret by die Taalmonument wat beweging gebruik as voertaal vir ’n gesprek oor geskiedenis, taal en argitektuur.
Skuif jou persoonlike oortuigings en vooroordele opsy, laat nuuskierigheid seëvier en kom kyk, kom voel en kom gesels saam.
charlie bravo kom in
een aand op colesberg ek was sewe
ons was op pad kaapstad toe sien ons twee
laaities in telefoonhokkies met mekaar sit en gesels
die ou soort hokkie wat oranje was en uitgehol
en verbasend baie soos ’n eier hulle lywe was ten volle
in dié doppe ingetrek soos kuikens of dalk ruimtevaarders
hulle het gelag en was vir ’n wyle ontsettend ver van hier
en terwyl ek luister hoe hulle woorde in colesberg se lug
verdubbel soos in ’n badkamer se spieël het alles
volledig vir my sin gemaak ook vir my suster
net my pa was deurmekaar hulle praat
dan met mekáár het hy aanhou sê
en presies het ek aanhou antwoord
– Tom Dreyer in ’n parallelle kreatiewe heelal (Nou in infrarooi)