#1 Grenslose gesprekke: Kunsuitstallings open

Vir die 30ste bestaansjaar van die KKNK is die mikpunt om ’n visuelekunste-aanbod saam te stel wat die geskiedkundige aspekte van die dorp en fees huldig, terwyl dit ook na die toekoms reik.

Alfred Adriaan: Positive Strokes in Afrikaans

Maak gereed om te lag totdat jou sye pyn met Alfred Adriaan se splinternuwe vertoning. Dié Suid-Afrikaanse komediesensasie, bekend vir uitverkoopte vertonings, is terug met sy unieke uitkyk op die lewe.

Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective

Maak gereed om meegevoer te word deur hierdie samewerking tussen twee van Suid-Afrika se betowerendste musikale talente – ’n onvergeetlike jazzkonsert wat die ryk tapisserie van plaaslike én wêreldmusiek vier.

Antie Wi’oekal

The Dress. YouTube se Comedy Hype-kanaal het ’n conspiracy waar “weird Hollywood” obsessed is met swart mans pressure om swart vrouens te speel en hulle mense af te maak.

Apple

Onder ’n groen appelboom krap Adam (’n knorrige realis) en Steve (’n uitbundige, emosionele optimis) hul pad uit die grond uit en die wêreld van ontdekking binne.

Atropa: Die wraak van vrede 

In ’n wêreld verskeur deur oorlog, ongelykheid en die nalatenskap van kolonialisme, tref Atropa soos ’n pyl in jou vlees. Die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye se herbesinning oor die Trojaanse Oorlog is nie net ’n hervertelling nie – dit is ’n radikale aanklag teen die hedendaagse magsug, patriargie en die politiek van geweld.

Badtyd

’n Ou wil maar net sy uitstap mooi maak. Toe hy gebore is, in die bad geverf met muf, het hulle sy ma kom haal. Vandag, jare later, is hulle terug. Dis weer badtyd.

Blitsteater

As ons enigiets laasjaar by Blitsteater geleer het, is dit dat kort teaterwerke jou net so hard kan tref soos ’n lang toneelstuk – soms vinniger! Agt uiteenlopende 20-minuut-blitsvertonings vorm deel van hierdie jaar se aanbieding.

Boklied

’n Aantal ietwat verloopte toneelspelers kom bymekaar in ’n tyd van krisis in ’n geslote ruimte – ’n gestig, ongebruikte saal of dalk net ’n gevangenis. Weg van die sogenaamde “normaliteit” daar buite, besin hulle oor die liefde, lewe en dood.

Brousels en baksels

Die storie van ’n ongenaakbare, maar vrugbare land – spiritualieë gebore uit die hart van die Karoo en gevorm deur die karakter van sy mense.

CRYBABY

Op ’n doodgewone oggend, by ’n doodgewone dagsorg, beleef die driejarige Samuel die onkeerbare verwoester van onskuld – die nuus. Hy verander in ’n oogwink: Van ’n doodgelukkige kind na ’n moeë volwassene, dekades verouder deur haglike hoofopskrifte, tragiese gebeure en die lot van die mensdom wat hopeloos te swaar is vir sy nuwe skouers om te dra.

Deep Heat

Hedda moes douvoordag vlug van die polisie en die stad. Sy het niemand gehad om te bel nie, behalwe haar broer, Gizz. Deur die loop van ’n oggend vind ons uit hoe Hedda en Gizz daar beland het waar hulle wegkruip in ’n pondokkie op ’n Karooplaas.

Die ander dogter

’n Tienjarige dogter vind toevallig uit van ’n suster wat twee jaar voor haar geboorte oorlede is. Dié dogter was die Franse skrywer Annie Ernaux, wat in 2022 die Nobelprys vir letterkunde ontvang het.

Die gebed van ’n halfmens

Op ’n stortingsterrein buite Oudtshoorn wag ’n voorspelling van waarheen die mensdom dalk op pad is. Dié drama ondersoek die impak van tegnologie: Skouspel of gruwel?

Die kronieke van Buks

In hierdie komisese kabaret blaf Buks koning in die stofstrate van Paul Roux. ’n Klein wit chihuahua wat dink hy is so groot soos ’n renoster. Buks trip-trap van huis tot huis, hoor die skinder, hoor die geheime.

Die opwinding en uitdagings van plekspesifieke teater

Nicola Hanekom en die geselskap van haar nuwe plekspesifieke drama, Die gebed van ’n halfmens, gesels oor die uitdagings van plekspesifieke teater, maar waarom ’n nietradisionele ruimte vir teater ingespan word.

Die Wynmeester: Kom proe saam

Die aanbieder van die gewilde VIA-reeks Die Wynmeester, Danie van der Merwe, kuier saam met ses onafhanklike wynmakers by die KKNK.

Dom, PasOp!

Welkom in die lewe van ’n Cheese Boy. Hy is ryker as meeste swart ouens en sy sak is platter as meeste wit ouens … Net sag genoeg om van albei kante die brak se byt te voel.

Doolhof

’n Jong paartjie is vasgevang in die kronkels van liefde, geloof, seksuele grense en verwagtinge wat in elke gesprek vlamvat. Ewan wil ’n toekoms hê met standvastige liefde, ’n huwelik en alles wat daarmee saamgaan.

Einde en begin

Op ’n sendingstasie in die destydse Rhodesië beleef die kind Marié die wêreld om haar met verwondering, humor, nuuskierigheid en, soos sy ouer word, met groeiende ontnugtering.

Emotional Black Male

Emotional Black Male is ’n skreeusnaakse, hartroerende komedie soos bedink deur Uncool Tea, die sagmoedigste hardgebakte man wat jy ken. In hierdie uur van emosionele chaos (én helderheid) takel hy toksiese manlikheid, township-teerheid en terapie, met ’n mikrofoon in die een hand.

Excerpts | Uittreksels

’n Versameling monoloë wat die dekades-oue onderwerpe van Westerse inmenging, sielkundige kondisionering en sensuur, deur ’n Kaapse lens ondersoek.

Feesmark se musiekverhoë: 3 April

Fees voluit van vroegdag by die KKNK se meer intieme dagverhoog om jou in die regte luim te kry vir ’n groot partytjie op die Feesmark-verhoog tot laat. Heerlike eetgoed en iets koud om te drink is ook nooit te ver weg nie.

Francois van Coke: Hoe ek dit onthou

Sluit aan by Francois van Coke vir ’n intieme vertoning met akoestiese verwerkings van sy bekendste liedjies en die agtergrondstories oor sy 23-jaar lange musiekloopbaan.

ge-gebergtes

’n Paar dae ná sy 90ste verjaarsdag word ’n emeritus professor oorweldig deur die lewe. Dit was ’n Saterdag, die Springbokke sou die middag speel, en sy rekenaar, foon, niks wou werk nie, alles het net te veel geraak.

Geagte kampeerders

Wynand van Vollenstee is Oom Frik, opsigter, eienaar en bestuurder van die Willewaters Kampeerterrein. Thiart Li vertolk die rol van Oom Frik se lojale regterhand, Henry. Elke Desember staan hulle slaggereed om die groot gros Transvalers te ontvang.

Gebou soos Steffi Graf

Ná al die vreesaanjaende berigte oor Wilgenhof het ek angs en trauma uit my jare in Die Plek probeer onthou, maar ál wat my geheue kon baasraak, was flitse van fantastiese partytjies.

Gryp elke grasHolm

Gryp na elke grashalm humor, hoop of harmonie wat jy kan kry, want die wêreld is tans deurmekaar! Ons moet maar self die komedie maak en die lag skep. Gryp elke grasHolm kan jou dalk net help in hierdie soektog na snaaks, sagtheid en sin.

Haasvoël

Welkom by die Nasionale konferensie van skaars spesies. Op vandag se agenda: Die bespreking en ontleding van die Haasvoël in sy natuurlike habitat.

Historiese skattejag en skets

Ontdek die geheime van die volstruishoofstad in hierdie skattejag-avontuur waar jong ontdekkers die ryk geskiedenis en van die argitektoniese skatte van Oudtshoorn kan ontrafel. Elke leidraad het ’n nuwe storie, ’n nuwe raaisel en ’n kans vir jou span om te wen.

Kafka’s Ape

Kafka’s Ape is ’n meedoënlose, ontstellende belydenis van ’n voormalige aap wat uit sy hok ontsnap het deur te leer om “beskaafde” mense na te boots. Vasgevang in ’n pak en met foutlose taalgebruik, doen Red Peter verslag aan ’n akademie wat hom ontleed soos ’n proefkonyn, terwyl hulle terselfdertyd sy “vordering” toejuig.

Kattekwaad en Koekeloer

Dis heeltyd speeltyd in ’n wêreld van kattekwaad en koekeloer. Woeps en Waps is onwaarskynlike maats. Waps kruip weg in haar verbeeldingswêreld en Woeps is ʼn beterweterige babbelbekkie. Terg en pret om elke hoek en draai ontwikkel in ’n eindelose verbeeldingsreis vol speel, deel en verken.

Kenan ennie Klopse

’n Storie oor belonging. Kenan sit vas tussen wat sy mense sê hy móét wies en wat sy drome vir hom fluister assit stil raak. Gevang tussen sy eie drome ennie shadow van sy oupa se legacy.

Kompoun

In dié verhoogverwerking van Ronelda Kamfer se roman word die aangrypende verhaal van die McKinney-familie van Groenplaas deur twee kleinkinders, Nadia en Xavie, vertel.

Kry vir jou ’n tux, Thomas

Tessa is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Sy wéét vanaand se funksie en die belaglike “toekenning vir lewenslange bydrae” wat sy ontvang, is om subtiel te sê haar tyd is verby.

LAPA Lekkerleesminuut

Kuier elke dag om 11:30 saam by die Klein KKNK-teater. Bekendes in die vermaaklikheidsbedryf lees voor uit van LAPA se bekendste kinderboeke en lekker boekpryse kan gewen word.

Luna Paige: Die reisigers

Luna Paige sing oor die “groot reis” en die immer ontwykende eindbestemming. Sy verken ruimtes waar beweging, stilte van gees, selfliefde en aanvaarding harmonie bring.

Markus (en die brandblusser op die derde verdieping)

Op die derde verdieping van die Koekmuseum sit Markus met ’n sigaret in die hand. Hy is pas van sy angsmedikasie af en verwerk die afgelope drie jaar van sy universiteitsloopbaan met die hulp van ’n brandblusser.

Met die maan gepla

’n Muis wat nog nooit kon droom nie, begin wonder oor die maan. Wat volg is ’n klein verhaal oor groot drome en die dinge wat ons laat opkyk. ’n Visuele, hartroerende storie vir oud en jonk.       

Miniatuur-herinneringe: ’n Borsspeld-werksessie

Elke borsspeld dra ’n storie, joune ook. In hierdie kreatiewe werksessie maak deelnemers twee miniatuur-kunswerke: Een teks-gebaseerde borsspeld (’n woord, kort sin of frase) én een beeld-gebaseerde borsspeld, soos ’n klein landskap, portret of abstrakte vorm.

Netphlix

Netphlix is ’n vinnige, hoogs energieke satire van aanlyn stroomreuse. Sophie Joans, bekroonde teatermaker en komediant, gebruik improvisasie, fisieke teater, komedie en sketse om lewe te gee aan al jou gunsteling- aanlyn reekse.

Olifant-en-ontbyt-ervaring

Geniet ’n buffet-ontbyt in die restaurant en beleef ’n wonderlike ervaring saam met die drie grootpote, Malaika, Bulelo en Jabari. Word meegevoer deur die aangrypende verhaal van drie wees-Afrika-olifante wat ’n gelukkige tuiste by Buffelsdrift Game Lodge gevind het.

Olyf tot olyfolie

Hierdie toer en proe bied ’n warm, vriendelike en leersame ervaring waar deelnemers leer hoe olywe geoes en olyfolie verbou en vervaardig word. Of jy nou ’n fynproewer van olyfolie is of nie – dit is ’n fantastiese toer vir elkeen wat meer van die bekende De Rustica Olive Estate wil sien.

Ommitafel

Kom sit. Hier waar stories nog warm is en herinneringe soos stoom oor die geregte hang. Ommitafel is ’n intieme musikale reis oor mense, maaltye en momente wat ons bind.

Omwentelinge, ’n papierspel

Die woord omwenteling is afkomstig van die Latynse circumvolvo wat beteken “kronkelende bewegings of patrone”. Binne hul afsonderlike spiraal-wêrelde oorweeg Cilliers en Kombuis wat om te skryf of wat om te lees.

Opera Blocks: Under the Sea

Kaapstad Opera se betowerende Opera Blocks is ideaal om peuters en jong kinders bekend te stel aan die wêreld van opera en klassieke musiek.

Ouma en die ou koeie

Soos ons ouer word is meeste mense geneig om (gerieflikheidshalwe) sekere dinge te begin vergeet. En dis gewoonlik die goed wat ons nie wil onthou nie. En dié wat ons wil onthou, kry mos mettertyd allerhande “versierinkies” by.

Play Things

Die opwindendste vertoonvenster vir nuwe werk. Play Things is Suid-Afrika se gunstelingruimte vir nuwe werk. Monoloë, sketse, towerkuns, komedie, teksvoorlesings, narrespel en meer.

Popsielkunde en geestesgesondheid

Om dagboek te hou is deesdae vreeslik in die mode. Dit help blykbaar die psigiese bedrading. Skryf vir terapie is so oud soos die berge. Waarom dan nou maak asof Chat of Claude baanbrekers op dié gebied is?

Potloodsakkie: Agter die zip

Al ooit gewonder wat gebeur agter die zip van ’n potloodsakkie in ’n skooltas van ’n gr. 7-leerling op die eerste dag van ’n nuwe skooljaar? Kom ontmoet die ou skryfbehoefte-maats en sien hoe die toevoeging van nuwe, vreemde skooltoebehore die dinamika in die sakkie verander.

Reünie

Dit is dieselfde skoolsaal, maar 43 jaar later by die reünie van die 1980-matriekgroep. Adam Boshoff tree as verteller op, maar deur die loop van die aand kry verskeie klasmaats ’n beurt agter die mikrofoon om hul sê te sê.

Seisoen van Steyn

Dit is die “Seisoen van Steyn” en die meester van spanning het weer lesers aan die wonder. Skimme en spoorsoekers is ’n versameling kortverhale – ’n interessante mengsel van raaisel, misdaad en meer.

Seun

Dana Snyman deel in Seun die deel van sy storie waaroor hy nog nooit gepraat het nie: sy ervarings in die 1980’s. Dit is die tyd van P.W. Botha se vinger, die Voëlvry-toer, AWB-saamtrekke, onderhandelings en die laaste dae van diensplig.

Skandalig

Fees voluit tot laatnag by Skandalig. Verwag hope musiekverrassings en lekker kuier, die perfekte manier om jou feesdag af te sluit (of te begin).

Spoel

Uit die ryk fotografiese versamelings en gemeenskapsargiewe wat deur 2025 se fotografiese navorsing gevorm is, ontvou Spoel uit beelde wat dekades lank stilweg ’n dorp se geheue gedra het. In die skeppingsruimte word hierdie foto’s merkers – uitnodigings aan die ensemble om die lig, skadu, gebare en stories wat tussenin sweef te volg.

Sterrekyk in die Klein Karoo

Ervaar die betowerende skoonheid van die Klein Karoo-naghemel saam met Night Sky Tours. Stap onder die uitgestrekte, sterverligte hemel en ontdek ’n wêreld van stilte, helderheid en kosmiese verwondering.

Stille vuur

Die wêreld het – meer as ooit – vrede nodig. Elkeen van ons het ’n versugting daarna. Die enigste manier om vrede in ’n gebroke wêreld te bewerkstellig, is om dit met passie na te jaag: Om ’n stille vuur van skoonheid te skep.

Stories onnerie DAK

Hierdie unieke interaktiewe storievertel-ervaring bring gesoute storievertellers byeen, en gehoorlede kry ook ’n beurt – inderwaarheid verskaf hulle die eerste vonk.

Suikerkoekie-versierklasse

Wou jy nog altyd leer om suikerkoekies kreatief te versier en jouself ’n bietjie uit te daag? Hier is jou kans. Leer die basiese tegnieke van “flooding”, “wet on wet” en “wet on dry” onder leiding van Marita Lamprecht.

The Fool’s Guide

Hierdie teaterstuk is geskep as ’n fisieke en performatiewe komiese besinning oor die raakpunte tussen kontemporêre tegnologie en Die Nar, Jan Alleman en Die Onskuldige.

The Scullery Quintet: Stir-Fried Sonatas

Maak gereed om jou musikale sintuie te prikkel met The Scullery Quintet se genotvolle vertoning van hul veelbekroonde Stir-fried Sonatas. Dit is beslis nie ’n gewone klassieke konsert nie – dis ’n aanloklike mengsel van klassieke crossover-, jazz- en populêre musiek, wat beloof om jou ore te streel én jou waardering vir die buitengewone te prikkel.

Vandagsedag

Ná C’est la vie (2013) en Net mooi fine (2019) is Lanie van Reenen terug met Vandagsedag; die vertelling van’n kleiner, onder-die-radar-lewe; die huis wat sy liefderik restoureer in die plattelandse dorpie waar sy land, hoe sy, ten spyte van die beperkinge wat met die ouderdom saamkom, steeds ja sê vir avonture.

Veer

Om te sterf, om te slaap – dis al wat oorbly. Niks anders nie. Wie weet watter drome jy dalk mag droom?

Verwelkingslied

In Breytenbach Breytenbach se laaste toneelstuk word ons op reis geneem deur die meester wat homself by sy eie begrafnis voorstel. Breyten tree hier in ’n bewussyn-verruimende asook intieme gesprek met ’n ou verhoogaktrise.

Vier die storie!

Saam met die KKNK se drie dekades vier Nataniël die afgelope 30 jaar as skrywer, sy meer as 25 topverkopers en ook sy loopbaan as storieverteller. Hy gesels met sy vriendin en medekunstenaar Anna-Mart van der Merwe oor die kuns van stories vertel, die vele maniere om verhale te deel en die ontdek van nuwe kulture.

Visuelekuns-rondleidings

Sluit daagliks aan by verskeie kunstenaars vir ’n rondleiding van die visuele kuns by die 30ste KKNK. Tree in gesprek met verskillende kunstenaars en kurators. Elke dag besoek ’n ander uitstalling.

Vrou ens. 1.2

Mandri Sutherland (Vroudrie) keer vanjaar terug met Vrou ens 1.2. Dit handel oor die vrouens wat haar tot dusver, en steeds, definieer, kritiseer, irriteer, uitdaag en inspireer.

Wag, wat?

Rehearsal môre gewone tyd in die kerksaal. Ons het baie om deur te werk, so moet asseblief nie laat wees nie! Onthou jou water en goeie vibes! Kwaai

Wat om te doen as die wêreld brand

Die wêreld is aan die brand, maar die engel/orakel/demi-godin wat die kliëntedienssentrum van die kosmos eiehandig beman, is afgeboek weens uitbranding. Die groot oor van die heelal is geheel en al oor dit. Wie gaan nou na die mensdom se gesanik luister, raad gee oor verhoudings en vure doodslaan waar hulle dreig om verwoesting te saai?

Wildehondekloof: Fynbos-fynproe

Wildehondekloof se gewilde fynbos-toer-en-proe word vir die tweede keer tydens die KKNK aangebied. Ervaar die wonder van die Klein Karoo se fynbos in kos. Ná ’n kort stappie in die veld om te kyk na die plante, keer deelnemers terug na die hoofhuis waar fynbos-gegeurde soute, asyn en tee geproe word.

With/Draw

Mense kom en mense gaan, maar familie is vir ewig … reg? Twee susters verlustig hulle in die vreugdes van hul verhouding, bou aan die band tussen hulle en skep saam herinneringe.