Die wêreld het – meer as ooit – vrede nodig. Elkeen van ons het ’n versugting daarna. Die enigste manier om vrede in ’n gebroke wêreld te bewerkstellig, is om dit met passie na te jaag: Om ’n stille vuur van skoonheid te skep. Vier legendariese kunstenaars steek deur middel van musiek, liriek en vertelkuns hierdie vredesvlam aan. Frieda van den Heever en Coenie de Villiers skuif agter die klawers in met nuwe komposisies en bekende musiek in ’n ander gedaante. Kitaargenie Mauritz Lotz bring as volwaardige komponis en medeskepper sy orkestrale werk na die verhoog en – les bes – Suid-Afrika se bekroonde en geliefde skrywer Deon Meyer sluit as gasverteller op die verhoog aan met nuwe werk uit sy pen. Kom beleef hoe warm ’n stille vuur kán brand.