#1 Grenslose gesprekke: Kunsuitstallings open

Vir die 30ste bestaansjaar van die KKNK is die mikpunt om ’n visuelekunste-aanbod saam te stel wat die geskiedkundige aspekte van die dorp en fees huldig, terwyl dit ook na die toekoms reik.
Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective

Maak gereed om meegevoer te word deur hierdie samewerking tussen twee van Suid-Afrika se betowerendste musikale talente – ’n onvergeetlike jazzkonsert wat die ryk tapisserie van plaaslike én wêreldmusiek vier.
Apple

Onder ’n groen appelboom krap Adam (’n knorrige realis) en Steve (’n uitbundige, emosionele optimis) hul pad uit die grond uit en die wêreld van ontdekking binne.
Atropa: Die wraak van vrede

In ’n wêreld verskeur deur oorlog, ongelykheid en die nalatenskap van kolonialisme, tref Atropa soos ’n pyl in jou vlees. Die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye se herbesinning oor die Trojaanse Oorlog is nie net ’n hervertelling nie – dit is ’n radikale aanklag teen die hedendaagse magsug, patriargie en die politiek van geweld.
Badtyd

’n Ou wil maar net sy uitstap mooi maak. Toe hy gebore is, in die bad geverf met muf, het hulle sy ma kom haal. Vandag, jare later, is hulle terug. Dis weer badtyd.
Blitsteater

As ons enigiets laasjaar by Blitsteater geleer het, is dit dat kort teaterwerke jou net so hard kan tref soos ’n lang toneelstuk – soms vinniger! Agt uiteenlopende 20-minuut-blitsvertonings vorm deel van hierdie jaar se aanbieding.
Boklied

’n Aantal ietwat verloopte toneelspelers kom bymekaar in ’n tyd van krisis in ’n geslote ruimte – ’n gestig, ongebruikte saal of dalk net ’n gevangenis. Weg van die sogenaamde “normaliteit” daar buite, besin hulle oor die liefde, lewe en dood.
Breyten Breytenbach se teaternalatenskap

Feesgangers het vanjaar as deel van die viering van drie dekades van die KKNK nie net die geleentheid om die herlewingsproduksie van Boklied te sien nie, maar ook sy laaste drama, Verwelkingslied.
Brousels en baksels

Die storie van ’n ongenaakbare, maar vrugbare land – spiritualieë gebore uit die hart van die Karoo en gevorm deur die karakter van sy mense.
Charl du Plessis Trio: 20 jaar

Die Charl du Plessis Trio vier 20 jaar op die verhoog met ’n verbysterende versameling crossover-musiek – van Barok tot blues en boogie.
CRYBABY

Op ’n doodgewone oggend, by ’n doodgewone dagsorg, beleef die driejarige Samuel die onkeerbare verwoester van onskuld – die nuus. Hy verander in ’n oogwink: Van ’n doodgelukkige kind na ’n moeë volwassene, dekades verouder deur haglike hoofopskrifte, tragiese gebeure en die lot van die mensdom wat hopeloos te swaar is vir sy nuwe skouers om te dra.
Deep Heat

Hedda moes douvoordag vlug van die polisie en die stad. Sy het niemand gehad om te bel nie, behalwe haar broer, Gizz. Deur die loop van ’n oggend vind ons uit hoe Hedda en Gizz daar beland het waar hulle wegkruip in ’n pondokkie op ’n Karooplaas.
Destiny Twice Over. And the Fate of a Half-eaten Sandwich.

Vyf misleide studente stry in hierdie absurde intervensie oor ’n heilige voorwerp wat sentraal tot hul onsamehangende realiteit staan.
Die ander dogter

’n Tienjarige dogter vind toevallig uit van ’n suster wat twee jaar voor haar geboorte oorlede is. Dié dogter was die Franse skrywer Annie Ernaux, wat in 2022 die Nobelprys vir letterkunde ontvang het.
Die gebed van ’n halfmens

Op ’n stortingsterrein buite Oudtshoorn wag ’n voorspelling van waarheen die mensdom dalk op pad is. Dié drama ondersoek die impak van tegnologie: Skouspel of gruwel?
Die kronieke van Buks

In hierdie komisese kabaret blaf Buks koning in die stofstrate van Paul Roux. ’n Klein wit chihuahua wat dink hy is so groot soos ’n renoster. Buks trip-trap van huis tot huis, hoor die skinder, hoor die geheime.
Die spoegvanger

Die spoegvanger is die ontstellende, maar roerende vertelling van ’n jong, wit seun wat groot word op ’n plaas aan die Vaalrivier. Hy is ’n kind met ’n fyn waarnemingsvermoë, vasgevang in ’n wêreld van stilte, geheime en harde waarhede.
Die Wynmeester: Kom proe saam

Die aanbieder van die gewilde VIA-reeks Die Wynmeester, Danie van der Merwe, kuier saam met ses onafhanklike wynmakers by die KKNK.
Dom, PasOp!

Welkom in die lewe van ’n Cheese Boy. Hy is ryker as meeste swart ouens en sy sak is platter as meeste wit ouens … Net sag genoeg om van albei kante die brak se byt te voel.
Doolhof

’n Jong paartjie is vasgevang in die kronkels van liefde, geloof, seksuele grense en verwagtinge wat in elke gesprek vlamvat. Ewan wil ’n toekoms hê met standvastige liefde, ’n huwelik en alles wat daarmee saamgaan.
Drie digters delf diep

Poëme is ’n taalreis rondom Wium van Zyl se stamboom. Die leser ontdek die taal van die digter se jeugwêreld, die Overberg, en reste van ’n ouer Afrikaans waarin vergete en amper verlore woorde teruggeroep word.
Effens anders

Aletta Francina de Kock is nog altyd effens anders… Aletta se splinternuwe stand-up-komedie, Effens anders, bied ’n komiese en eerlike blik op haar huidige lewe – met al die snaakse, aweregse en downright bizarre dinge wat daarmee saamkom.
Emotional Black Male

Emotional Black Male is ’n skreeusnaakse, hartroerende komedie soos bedink deur Uncool Tea, die sagmoedigste hardgebakte man wat jy ken. In hierdie uur van emosionele chaos (én helderheid) takel hy toksiese manlikheid, township-teerheid en terapie, met ’n mikrofoon in die een hand.
Excerpts | Uittreksels

’n Versameling monoloë wat die dekades-oue onderwerpe van Westerse inmenging, sielkundige kondisionering en sensuur, deur ’n Kaapse lens ondersoek.
Feesmark se musiekverhoë: 2 April

Fees voluit van vroegdag by die KKNK se meer intieme dagverhoog om jou in die regte luim te kry vir ’n groot partytjie op die Feesmark-verhoog tot laat. Heerlike eetgoed en iets koud om te drink is ook nooit te ver weg nie.
ge-gebergtes

’n Paar dae ná sy 90ste verjaarsdag word ’n emeritus professor oorweldig deur die lewe. Dit was ’n Saterdag, die Springbokke sou die middag speel, en sy rekenaar, foon, niks wou werk nie, alles het net te veel geraak.
Geagte kampeerders

Wynand van Vollenstee is Oom Frik, opsigter, eienaar en bestuurder van die Willewaters Kampeerterrein. Thiart Li vertolk die rol van Oom Frik se lojale regterhand, Henry. Elke Desember staan hulle slaggereed om die groot gros Transvalers te ontvang.
Gebou soos Steffi Graf

Ná al die vreesaanjaende berigte oor Wilgenhof het ek angs en trauma uit my jare in Die Plek probeer onthou, maar ál wat my geheue kon baasraak, was flitse van fantastiese partytjies.
Haasvoël

Welkom by die Nasionale konferensie van skaars spesies. Op vandag se agenda: Die bespreking en ontleding van die Haasvoël in sy natuurlike habitat.
Historiese wandeltoer

RJ Tours bied ’n gemaklike staptoer op Oudtshoorn aan, waar deelnemers verskeie historiese geboue besoek en verryk word deur geskiedkundige stories.
Hoort

’n Semi-outobiografiese kabaret wat jou laat lag, huil en met nuwe oë na jou eie storie laat kyk. Dit vertel die verhaal van Stephanie, die dogter van twee pastore, wat haar plek in die wêreld soek te midde van haar gemengde agtergrond en ons komplekse geskiedenis.
Kaktus

Kaktus is terug! Dié musiekkonsert is sedert die ontstaan van die KKNK ’n hoogtepunt vir baie feesgangers, waar verskeie musiekgenres bymekaarkom.
Kattekwaad en Koekeloer

Dis heeltyd speeltyd in ’n wêreld van kattekwaad en koekeloer. Woeps en Waps is onwaarskynlike maats. Waps kruip weg in haar verbeeldingswêreld en Woeps is ʼn beterweterige babbelbekkie. Terg en pret om elke hoek en draai ontwikkel in ’n eindelose verbeeldingsreis vol speel, deel en verken.
Kenan ennie Klopse

’n Storie oor belonging. Kenan sit vas tussen wat sy mense sê hy móét wies en wat sy drome vir hom fluister assit stil raak. Gevang tussen sy eie drome ennie shadow van sy oupa se legacy.
Kompoun

In dié verhoogverwerking van Ronelda Kamfer se roman word die aangrypende verhaal van die McKinney-familie van Groenplaas deur twee kleinkinders, Nadia en Xavie, vertel.
Kry vir jou ’n tux, Thomas

Tessa is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Sy wéét vanaand se funksie en die belaglike “toekenning vir lewenslange bydrae” wat sy ontvang, is om subtiel te sê haar tyd is verby.
Kurt Schoonraad: Funny Side Up

Na uiters suksesvolle optredes by die Baxter-teater in Kaapstad en Montecasino in Johannesburg, kan Oudtshoorn gereed maak vir ’n skaterlag-ervaring met een van Suid-Afrika se bekendste en invloedrykste komediante, Kurt Schoonraad.
LAPA Lekkerleesminuut

Kuier elke dag om 11:30 saam by die Klein KKNK-teater. Bekendes in die vermaaklikheidsbedryf lees voor uit van LAPA se bekendste kinderboeke en lekker boekpryse kan gewen word.
Legendes: Sandra Prinsloo en Nic de Jager

Sandra Prinsloo en Nic de Jager het al diep spore getrap. Sandra is vanjaar te sien in ’n nuwe eenvrouvertoning, Die ander dogter, en Nic in die drama ge-gebergtes.
Lemoene, Lemoene, Lemoene, Lemoene, Lemoene

In ’n Suid-Afrika waar mense net 140 woorde per dag mag gebruik, moet twee jong geliefdes leer om met stilte te leef, en om met woorde te baklei.
Luna Paige: Die reisigers

Luna Paige sing oor die “groot reis” en die immer ontwykende eindbestemming. Sy verken ruimtes waar beweging, stilte van gees, selfliefde en aanvaarding harmonie bring.
Magda Louw en haar Erhard: How Louw can you go?

Magda en Erhard het beplan om die gehoor te beïndruk – goeie storie, goeie humor, goeie waarde vir geld. Maar Erhard vergeet waar hy is, Magda probeer red wat te redde is, en die dans … wel, dis maar “Louw-warm”.
Markus (en die brandblusser op die derde verdieping)

Op die derde verdieping van die Koekmuseum sit Markus met ’n sigaret in die hand. Hy is pas van sy angsmedikasie af en verwerk die afgelope drie jaar van sy universiteitsloopbaan met die hulp van ’n brandblusser.
Met die maan gepla

’n Muis wat nog nooit kon droom nie, begin wonder oor die maan. Wat volg is ’n klein verhaal oor groot drome en die dinge wat ons laat opkyk. ’n Visuele, hartroerende storie vir oud en jonk.
Miniatuur-herinneringe: ’n Borsspeld-werksessie

Elke borsspeld dra ’n storie, joune ook. In hierdie kreatiewe werksessie maak deelnemers twee miniatuur-kunswerke: Een teks-gebaseerde borsspeld (’n woord, kort sin of frase) én een beeld-gebaseerde borsspeld, soos ’n klein landskap, portret of abstrakte vorm.
Nabeeld: Vyf jaar van Karoo Kaarte

Die eerste paneel herbesoek die projek se reis oor vyf jaar en verken die ontwikkeling, metodologieë, uitkomste en impak daarvan. Paneellede besin oor hoe die projek sy plattelandse konteks gevorm het – en self daardeur gevorm is – met spesifieke fokus op sy verbintenis tot gemeenskapsgeleide argiewe.
Olifant-en-ontbyt-ervaring

Geniet ’n buffet-ontbyt in die restaurant en beleef ’n wonderlike ervaring saam met die drie grootpote, Malaika, Bulelo en Jabari. Word meegevoer deur die aangrypende verhaal van drie wees-Afrika-olifante wat ’n gelukkige tuiste by Buffelsdrift Game Lodge gevind het.
Olyf tot olyfolie

Hierdie toer en proe bied ’n warm, vriendelike en leersame ervaring waar deelnemers leer hoe olywe geoes en olyfolie verbou en vervaardig word. Of jy nou ’n fynproewer van olyfolie is of nie – dit is ’n fantastiese toer vir elkeen wat meer van die bekende De Rustica Olive Estate wil sien.
Op die spoor van die Stasiemoordenaar

In die laat 1980’s en vroeë 90’s raak 22 jong seuns tussen tien en 14 jaar vermis, almal binne ’n 30 km-radius van mekaar. Die bruin gemeenskap word tot stilstand geruk elke keer wanneer daar nóg ’n seun verdwyn.
Opera Blocks: Under the Sea

Kaapstad Opera se betowerende Opera Blocks is ideaal om peuters en jong kinders bekend te stel aan die wêreld van opera en klassieke musiek.
Play Things

Die opwindendste vertoonvenster vir nuwe werk. Play Things is Suid-Afrika se gunstelingruimte vir nuwe werk. Monoloë, sketse, towerkuns, komedie, teksvoorlesings, narrespel en meer.
PLEKTRUM

Die Mauritz Lotz-verhaal. Hy is die Suid-Afrikaanse musikant met meer as 4 000 opnames op sy kerfstok. Hy spog met twee Grammy-pryse en is self ’n beoordelaar van die Grammys. Hy is ’n kitaargenie, komponis en verwerker wat plaaslik en internasionaal respek afdwing.
Police Cops: The Original

’n Wêreldklas-trefferkomedie – vir die heel eerste keer by die KKNK! Maak gereed vir ’n verregaande, oordadige ervaring wanneer die internasionaal hoog aangeskrewe, veelbekroonde Police Cops die verhoog in volle vaart tref. Die vooraanstaande Britse komiese trio herbesoek die treffer waar dit alles begin het – dit is tyd vir herlaai, maar groter en snaakser as ooit.
Ponzi-skemas: Is die skelms te slim, is ons dom – of dalk net gierig?

Is die skelms net te slim, of ons te onnosel? Jaar ná jaar word nog ’n Ponzi-skema blootgelê, en verdwyn nóg mense se geld in die niet.
Raunchy Renditions

Raunchy Renditions is Suid-Afrika se eerste sekspositiewe storievertelplatform waarvan die gewildheid al hoe meer toeneem. Dit is geïnspireer deur podsendings soos The Moth en Bawdy Storytelling, met vyf dapper storievertellers wat hul innemend ongemaklike, skreeusnaakse en gewaagde seksuele (wan)avonture deel.
Rescue Remedy

Niemand het ’n gemaklike verhouding met hul pa nie. Rescue Remedy is ’n queer kind se skreeusnaakse, tragiese poging om hul kragdadige pa halfpad te ontmoet. Letterlik, op die N2.
Seun

Dana Snyman deel in Seun die deel van sy storie waaroor hy nog nooit gepraat het nie: sy ervarings in die 1980’s. Dit is die tyd van P.W. Botha se vinger, die Voëlvry-toer, AWB-saamtrekke, onderhandelings en die laaste dae van diensplig.
Skandalig

Fees voluit tot laatnag by Skandalig. Verwag hope musiekverrassings en lekker kuier, die perfekte manier om jou feesdag af te sluit (of te begin).
SOOIBRAND

Nataniël se nuwe vertoning, SOOIBRAND, is ’n intieme en musikale huldeblyk aan ligte ongemak, diepe skuldgevoelens, mediese skokke en volgehoue ontkenning.
Spanje: Reise in ’n palimpses

In 1992 loop ’n 17-jarige André Pretorius op sy eentjie in Barcelona rond. Onder die Olimpiese vlam ontbrand ’n hartstog wat hom vir die volgende drie dekades keer op keer terugneem na Spanje.
Spoel

Uit die ryk fotografiese versamelings en gemeenskapsargiewe wat deur 2025 se fotografiese navorsing gevorm is, ontvou Spoel uit beelde wat dekades lank stilweg ’n dorp se geheue gedra het. In die skeppingsruimte word hierdie foto’s merkers – uitnodigings aan die ensemble om die lig, skadu, gebare en stories wat tussenin sweef te volg.
Sterrekyk in die Klein Karoo

Ervaar die betowerende skoonheid van die Klein Karoo-naghemel saam met Night Sky Tours. Stap onder die uitgestrekte, sterverligte hemel en ontdek ’n wêreld van stilte, helderheid en kosmiese verwondering.
Stille vuur

Die wêreld het – meer as ooit – vrede nodig. Elkeen van ons het ’n versugting daarna. Die enigste manier om vrede in ’n gebroke wêreld te bewerkstellig, is om dit met passie na te jaag: Om ’n stille vuur van skoonheid te skep.
Suikerkoekie-versierklasse

Wou jy nog altyd leer om suikerkoekies kreatief te versier en jouself ’n bietjie uit te daag? Hier is jou kans. Leer die basiese tegnieke van “flooding”, “wet on wet” en “wet on dry” onder leiding van Marita Lamprecht.
The Fool’s Guide

Hierdie teaterstuk is geskep as ’n fisieke en performatiewe komiese besinning oor die raakpunte tussen kontemporêre tegnologie en Die Nar, Jan Alleman en Die Onskuldige.
The Reservation

Jy word vanjaar uitgenooi om jou plek aan die tafel in te neem vir The Reservation – ’n gewaagde, meesleurende dansteaterproduksie wat ’n spieël vir ons sosiale gewoontes en begeertes voorhou. Hierdie gesinsvriendelike opvoering gaan beslis jou eetlus prikkel.
The Scullery Quintet: Stir-Fried Sonatas

Maak gereed om jou musikale sintuie te prikkel met The Scullery Quintet se genotvolle vertoning van hul veelbekroonde Stir-fried Sonatas. Dit is beslis nie ’n gewone klassieke konsert nie – dis ’n aanloklike mengsel van klassieke crossover-, jazz- en populêre musiek, wat beloof om jou ore te streel én jou waardering vir die buitengewone te prikkel.
Veer

Om te sterf, om te slaap – dis al wat oorbly. Niks anders nie. Wie weet watter drome jy dalk mag droom?
Visuelekuns-rondleidings

Sluit daagliks aan by verskeie kunstenaars vir ’n rondleiding van die visuele kuns by die 30ste KKNK. Tree in gesprek met verskillende kunstenaars en kurators. Elke dag besoek ’n ander uitstalling.
Vrou ens. 1.2

Mandri Sutherland (Vroudrie) keer vanjaar terug met Vrou ens 1.2. Dit handel oor die vrouens wat haar tot dusver, en steeds, definieer, kritiseer, irriteer, uitdaag en inspireer.
Wag, wat?

Rehearsal môre gewone tyd in die kerksaal. Ons het baie om deur te werk, so moet asseblief nie laat wees nie! Onthou jou water en goeie vibes! Kwaai
Wat om te doen as die wêreld brand

Die wêreld is aan die brand, maar die engel/orakel/demi-godin wat die kliëntedienssentrum van die kosmos eiehandig beman, is afgeboek weens uitbranding. Die groot oor van die heelal is geheel en al oor dit. Wie gaan nou na die mensdom se gesanik luister, raad gee oor verhoudings en vure doodslaan waar hulle dreig om verwoesting te saai?
Wildehondekloof: Fynbos-fynproe

Wildehondekloof se gewilde fynbos-toer-en-proe word vir die tweede keer tydens die KKNK aangebied. Ervaar die wonder van die Klein Karoo se fynbos in kos. Ná ’n kort stappie in die veld om te kyk na die plante, keer deelnemers terug na die hoofhuis waar fynbos-gegeurde soute, asyn en tee geproe word.
Wonderlike waarhede

Playback-teatertegnieke word ingespan om stories uit te speel wat deur ’n genooide gas en gehoorlede vertel word.
Zonkie en die laaste boomhuis

Met toeters en fluitjies en ’n gesig so mooi geverf, trap Zonkie ’n fiets vol fieterjasies en bederf. Daar is skoenlappers wat fladder in die wolke bo haar kop, en ’n boomhuis vol stories wat oopmaak as sy stop!