Kans Karoo

MET Hannah Paton in samewerking met die Barrydale Hand Weavers

Gratis

Presbiteriaanse Kerk

DATUM(S)

28 Maart 2026, 09:00

29 Maart 2026, 09:00

30 Maart 2026, 09:00

31 Maart 2026, 09:00

1 April 2026, 09:00

2 April 2026, 09:00

3 April 2026, 09:00

4 April 2026, 09:00

Kans Karoo herinner ons aan die skaars kans dat ons almal op dieselfde tyd lewendig is.

Dit is ’n interaktiewe projek met fotografie, klank en tekstiel deur Hannah Paton, in samewerking met die Barrydale Hand Weavers.

Die tradisionele, soms kliniese fotografie-ateljee, met sy agtergrond met ’n oneindige kurwe, word hier herverbeel as ’n sagte, gevoelvolle ruimte wat elke feesganger nooi om deel van ’n kansportret te word. Die fotograaf fokus op elke deelnemer, soos die kans uitspeel, om erkenning te gee aan elke lewe, nou.

Die tradisionele fotografiese landskapagtergrond word hier geskep deur hangende stringe katoendraad, soos lewenstydlyne wat uitrol: Die agtergrond-kurwe, KansMoeder, hou die drade en weefsels van ons lewens bymekaar. Al die kanse van die lewe hang van haar af. Die kleure en teksture verteenwoordig herinneringe, iets tasbaar waarvan ons almal deel word. Elke draad dra by om die geheel te vorm: elke draad ’n lewenslyn, ’n frekwensie van teenwoordigheid.

Die agtergrond beweeg saam met jou en jy beweeg daarin. Lewe of dood, dis nooit ’n vaste agtergrond nie. Wat ook al jou persoonlike agtergrond, dit word deel van ’n groter geheel. Ons deel almal dieselfde agtergrond: Ons staan op dieselfde aarde, met die heelal om ons as die universele oneindige kurwe.

Kans Karoo is ’n inklusiewe gemeenskapsprojek, ’n lewende weefsel van teenwoordigheid wat gestalte vind in KansMoeder en vele ander Kans-weefsels en -wonders.

In ’n tyd waarin ons daagliks met groot verskille saamleef, nooi hierdie werk ons om die kans te vat, om te staan teen ’n beweegbare agtergrond, en onsself te herinner dat ons almal dieselfde ruimte deel. Ons stemme is verweef.

Kyk mooi: In en om elkeen van ons is die heelal se oneindige kurwe.

Vat die kans en skep jou foto saam met Kans Karoo by die KKNK in 2026.