After De Jongh is ’n visueel-ryk uitstalling van skilderye en werke in gemengde media deur Hentie van der Merwe.
Hierin fokus hy op die Nederlands-Suid-Afrikaanse kunstenaar Tinus de Jongh (1885-1942). De Jongh se skilderye, aldus Van der Merwe, is “tekenend van daardie hele genre van kitscherige landskapkuns waarmee ek grootgeword het en waaraan generasies van Afrikaners steeds verknog is”.
Sy kinderjare in Namibië is ’n belangrike invloed en hy noem “die landskap as onderwerp was nog altyd op my wenslysie, gegewe my grootwordjare in die berge van Namibië as die seun van grondeienaars. Ek het deur die jare sporadies gewerk met die tema, maar nog nooit so uitvoerig en deurlopend soos met die After De Jongh-reeks nie. In my weergawes van die De Jongh-landskappe ondersoek en worstel ek met aspekte soos die bemeestering van die landskap, land en grondbesit, grondbesetting, grondbewerking, die erfenis, onteiening en ontneming, vernietiging en veldbrande. Kortliks, die landskap as die terrein van my herkoms en emosies en hoe dit met my oorsprong verband hou. Behalwe vir hierdie aspekte, is De Jongh se werk bloot ook ’n vertrekpunt waardeur ek die eiesoortige eienskappe van olieverf as ’n medium verder kan ontgin.”
Van der Merwe se benadering benadruk die verband tussen teken en skilder. Hy verwys na die teoretikus W.J.T. Mitchell se beskrywing van landskapskilderwerk as ’n “werkwoord”. Wat hy daarmee benadruk, is dat landskapskilderwerk ’n genre van realistiese skilderkuns is, wat aandadig is aan die skep van sekere sosiale identiteite: Dit vervul dus ’n sosiaal-politieke rol. Artistieke invloede speel ook ’n rol: De Jongh se styl is ontleen aan die Barbizon-skool – ’n groep skilders van Fontainebleau, Frankryk (1830-1870), wat voorstanders was van die bevordering van Realisme in kuns in die Romantiese tydperk.
Tinus de Jongh is gebore in Amsterdam in 1885 en het homself in 1921 in Suid-Afrika gevestig.