nomThunzi Mashalaba se interdissiplinêre kunsproses wentel rondom haar eie verhaal. Die skoonheid van die bladsy van ’n boek en die taal van ’n getekende lyn vorm die grondslag van haar werk. Sy skep visuele stories gegrond op persoonlike ervarings en onthul intieme oomblikke wat terselfdertyd universele menslike ervarings oproep.
Haar outobiografiese benadering bepaal die aard van elke werk wat sy aanpak, hetsy of sy met verf, tekstiel of ander media werk. Haar kleurpalet is sag, dog herkenbaar, en die opvallende kleurgebruik is die werktuig waarmee sy haarself binne die wêreld plaas. Deur verskeie kunsvlyttegnieke aan te pas, dekonstrueer en omskep sy prosesse soos brei, weef en merkmaak in emotiewe kleurvlakke waar geheue, tydsverloop en die begrip van “self” verweef is tot nuwe wêrelde. Die werke vereis dat die kyker stil word en ’n wyle vertoef. Sy moedig die kyker aan om hulself te begeef in ’n wêreld anderkant taal.
Stilte word ’n ruimte vir onderhandeling: Tussen wat onthou word en wat vergete is, wat gesê word en wat ongesê bly. Op hierdie manier omskep sy persoonlike herinneringe in gedeelde ervarings en word fragmente uit die verlede tasbare opdrifsels van die hede.
So, I Let Silence Explain bring nuwe werke en historiese werke byeen en word ’n persoonlike dialoog wat die grense van tyd en ruimte oorskry. nomThunzi Mashalaba is ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat tans in Mthatha woon. Sy behaal haar BTech-graad in skone kunste in 2006 aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie. Haar werk is plaaslik en internasionaal uitgestal, onder meer as deel van Map of the New Art (Venesië), Crossing Boundaries (Katar) en The Art of Humanity (Pratt-Instituut, New York). Haar onlangse solo-uitstalling, Pretend, by die Kaapstad Internasionale Kunsmark met die Everard Read-galery (2024) is met groot lof ontvang.