GO Kunstenaarsverblyf: Batho Ba Style
Elke jaar word ’n jong visuele kunstenaar genooi om tyd op Oudtshoorn deur te bring by die GO Kunstenaarsverblyf en werk te skep in dialoog met die plaaslike geskiedenis en landskap. Luxolo Witvoet, ’n Kaapse kunstenaar, is vanjaar hiervoor gekies.
Luxolo sê: “Ek is onlangs terug in Kaapstad ná twee weke op Oudtshoorn. In my werk wil ek die goue jare van die volstruisbedryf se bloeitydperk herbesoek. Ek het ’n interessante foto in die argiewe van die C.P. Nel-museum gevind van ’n Khoekhoe-man in Europese kleredrag, met ’n volstruisveer in sy hoed. Ek het dit baie treffend gevind.
“Ek herverbeel die mans en vroue van verskillende kulture en etniese groepe en werk met geskiedkundige verwysings om nuwe beelde te skep. Baie van my huidige werk toon figure wat tabak rook, ’n universele tydverdryf wat aansluit by die dorp se tabakbedryf.
“My werk verwys na jazz en elemente van Sophiatown-modes, wat deur Europese neigings beïnvloed is. Ek is gefassineer met hoe kulture ontwikkel en oorvleuel. Ek bring ’n nuwe invalshoek en ’n humorsin na hierdie inhoud.”