Multidissiplinêre gemeenskapsprogram

’n KKNK-projek, ondersteun deur die Jannie Mouton-stigting, Het Jan Marais Nationale Fonds en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport.

In 2026 vier ons nie net die 30ste KKNK op Oudtshoorn nie, maar ook vyf jaar van Karoo Kaarte – ’n projek wat stadig maar seker die manier verander het waarop plattelandse geskiedenisse gedokumenteer, gedeel en herverbeel word. Wat begin het as ’n klein eksperiment in gemeenskapsvertelling, het sedertdien ontwikkel in ’n bekroonde model vir gemeenskapsgedrewe kulturele programsamestelling. Danksy samewerking en sorg kon Karoo Kaarte oor dié vyf jaar sitkamers betree, deur familiealbums blaai en te hore kom van herinneringe van toeka se tyd, waarmee ’n lewende argief saam met die mense van Oudtshoorn opgebou is.

Vir hierdie mylpaal keer die span terug na plaaslike fotografie om die uitruil van herinneringe, beelde, kennis en sorg tussen gemeenskappe – dikwels lank geskei deur ras, geografie en toegang – sigbaar te maak.

Die Karoo Kaarte-program vir 2026 aktiveer plaaslike fotografiese versamelings wat in gesprek met Oudtshoorn se veelvlakkige verlede tree: Van intieme familie-argiewe en ’n plaaslike fotografiese ateljee tot die kragtige beeld-erfenis van Saamstaan, die anti-apartheid-gemeenskapskoerant wat swart en bruin lewens gedokumenteer het. Foto’s, mondelinge geskiedenisse en bydraes wat oor vyf jaar as deel van Karoo Kaarte versamel is, sluit naatloos hierby aan.

Karoo Kaarte eer die fotograwe, argiefbewaarders en storievertellers wat herinneringe lewend hou deur uitstallings, vertonings en gesprekke – en nooi gehore om saam nuwe maniere van sien en behoort in die Klein Karoo te verbeel.

Elise en Petra: ’n Grafiese roman

Ná die sukses van Queen (2025) en Domino Gents (2024), keer Karoo Kaarte in 2026 terug met ’n derde grafiese roman: Elise en Petra.

Karoo Kaarte-app

Stap in die lewende stories van Oudtshoorn in deur die Karoo Kaarte-app. Die app is ’n interaktiewe, mobiele argief wat die dorp omskep in ’n plek van geheue, stem en verwondering, gewortel in plek.

Kiekies

Die uitstalling verken die merkwaardige samevloeiing van drie fotoversamelings en hoe dit insig bied in Oudtshoorn se sosiale, kulturele en ruimtelike geskiedenis tussen 1950 en 2010.

Kiekies: ’n Dorp in foto’s

Die gedrukte publikasie brei die uitstalling uit tot ’n zine, wat as ’n versamelstuk dien. Met saamgestelde beelde en uittreksels uit mondelinge onderhoude oor die geskiedenis, bied die zine ’n bykomende laag toegang tot die drie merkwaardige fotografiese versamelings wat lig op Oudtshoorn se sosiale, kulturele en ruimtelike geskiedenis vanaf die 1950’s tot die 2010’s werp.

Nabeeld: Vyf jaar van Karoo Kaarte

Die eerste paneel herbesoek die projek se reis oor vyf jaar en verken die ontwikkeling, metodologieë, uitkomste en impak daarvan. Paneellede besin oor hoe die projek sy plattelandse konteks gevorm het – en self daardeur gevorm is – met spesifieke fokus op sy verbintenis tot gemeenskapsgeleide argiewe.

Om te onthou: Plaaslike geskiedenis deur die lens van fotografie

Die tweede paneel bring navorsingsdeelnemers byeen om te besin oor hul ervarings om gefotografeer te word, beelde te versamel en dat hul stories die openbare domein betree.

Spoel

Uit die ryk fotografiese versamelings en gemeenskapsargiewe wat deur 2025 se fotografiese navorsing gevorm is, ontvou Spoel uit beelde wat dekades lank stilweg ’n dorp se geheue gedra het. In die skeppingsruimte word hierdie foto’s merkers – uitnodigings aan die ensemble om die lig, skadu, gebare en stories wat tussenin sweef te volg.