Met die Karoo-berge teen die agtergrond en met die Karoo-son wat skel skyn, beleef die gehoor Deep Heat.
Dit is ’n plekspesifieke drama wat afspeel op ’n vlakte buite Oudtshoorn, op die pad Calitzdorp toe. Die storie handel oor Hedda (Carin Bester) wat op die vlug slaan en nou saam met haar broer, Gizz (Hendrik Nieuwoudt), in ’n pondokkie in die Karoo wegkruip.
Die buitelugplasing van Deep Heat in die Karoo werk goed, want die oop vlaktes en berge verhelder die storie. Die warm weer en rooi grond dra ook by tot die sukses van die drama.
Bester en Nieuwoudt lewer uitstekende vertolkings. Hul karakters verskil soos dag en nag, maar die gehoor kry tog ’n blik op die broer en suster se band – dit is diep, eerlik en soms onsensitief.
Hedda is ’n gebroke vrou en Bester se vertolking bring die rowwe, emosionele kant van haar goed na vore. Hedda ervaar ’n eksistensiële dilemma en al haar verhoudings dra daartoe by. Sy gee ook ’n blik op die absurditeit van die man wat haar tiete wou sien in ruil vir water. Sy voel of sy geen liefde kry nie.
Gizz, daarenteen, is kalm en probeer die mooi in die lewe raaksien deur vroegoggend te strek, te neurie en te mediteer.
Die kombinasie van die kontrasterende karakters werk goed, want dit skep balans in die storie en dra by tot die spanning wanneer hul persoonlikhede bots.
Die stuk, geskryf deur Ashraf Jamal, gee deur die uitbeelding van Hedda se lewe ’n blik op baie vroue se geleefde ervaring in Suid-Afrika, waar hulle in verhoudings bly uit “liefde”, maar nie besef dat hulle mishandel word nie. Sy verduidelik hoe al die mans met wie sy in ’n verhouding was “anders” is, maar sy beland elke keer in ’n verhouding waar geweld betrokke is.
As jy ’n Karoo-ervaring wil hê, gaan kyk Deep Heat – onthou net om ’n hoed en water saam te neem.
Titel: Deep Heat
Met: Carin Bester en Hendrik Nieuwoudt
Regie: Ilana Cilliers
Tot: 4 April