Digkuns
Poëme is ’n taalreis rondom Wium van Zyl se stamboom. Die leser ontdek die taal van die digter se jeugwêreld, die Overberg, en reste van ’n ouer Afrikaans waarin vergete en amper verlore woorde teruggeroep word. Ontbloot is ’n memoires-digbundel. Dit handel oor Marthé McLoud se persoonlike ervaringe in familie- en gesinsverband, maar is ook universeel relevant. Dit is ’n intieme verhaal wat strek van haar kinderdae en studentejare tot getroude vrou in die werksplek, waar die verhouding tussen ouer en kind ook ’n deurslaggewende rol speel. Die gedigte in waar daar eens ’n see was is ingebed in die Vrystaat van Jennifer Pape se jeug, waar sy bewus geword het van radiogolwe waarmee jy die buitenste ruim en selfs gestorwe geliefdes kan afluister. Dié opgeleide geoloog sien nie net verborge fossiele raak nie, maar ook die gode in ons aardse bestaan.