Niefiksie
In die laat 1980’s en vroeë 90’s raak 22 jong seuns tussen tien en 14 jaar vermis, almal binne ’n 30 km-radius van mekaar. Die bruin gemeenskap word tot stilstand geruk elke keer wanneer daar nóg ’n seun verdwyn. Sommiges se lyke word later op sandduine gevind, met hulle hande agter die rug gebind. Maar die meeste van die misdade is nooit opgelos nie en talle ouers soek steeds na antwoorde. ’n Man is destyds skuldig bevind aan moord op een van die seuns en is onlangs op parool vrygelaat. Daar is egter steeds talle onbeantwoorde vrae. Waarom het ooggetuies ’n ander man beskryf? Aan wie behoort die DNS wat op tonele gevind is? Die gesoute joernalis en skrywer Julian Jansen volg die spoor van die seuns en die destydse polisieondersoeke om te probeer uitpluis wat gebeur het en of al hierdie misdade wel met mekaar verbind kan word.