Die Wes-Kaapse regering is trots om die 30ste mylpaal van die KKNK, een van die Wes-Kaap se jaarlikse vernaamste kulturele geleenthede, saam te vier!
Om hierdie mylpaal te vier, bied die Wes-Kaapse regering ’n dinamiese program van aktiwiteite in Oudtshoorn aan.
Maak ’n draai by Vonkprop, ondersteun deur die Wes-Kaapse regering, by die ATKV-Griesselsaal. Verskeie opkomende jong kunstenaars uit die Wes-Kaap stel hul talente in die amptelike tale van die provinsie ten toon in opwindende produksies, wat drama en komedie insluit. Die wenners van 2025 se DCASdramafees is ook deel van die program in die opwindende nuwe venue.
Daar is dwarsdeur die fees vermaaklike storievertel-sessies, wat die erfenis en stories van die provinsie vier – die sessies word gratis by die kykNET-leefarea aangebied.
Verskeie teatergesprekke delf dieper in die produksies by die fees, en ander aktuele onderwerpe oor kuns en kultuursake kom ook onder die loep. Insiggewende landbougesprekke wat landboukwessies in die Wes-Kaap belig en waarby belangstellendes interaktief betrek word, word ook deur die Wes-Kaapse regering ondersteun.
Opwip-optredes maak oraloor ’n verskyning, wat gratis aangebied word en feesgangers gaan verras met verskeie kulturele ervarings. Musiektalent uit die Tuinroete- en Eden-distrik word aangebied, met ondersteuning van die Wes-Kaapse regering. Almal word genooi na die gratis sessies by die RSG en ATKV-Kuierkol in Baron van Reedestraat – van vroeg- tot laataand en ’n ware viering van die talent wat ons streek bied.
Wees op die uitkyk vir die spesiale kunswerke wat deur plaaslike kunstenaars geskep word om Oudtshoorn en die terreine van die fees te verfraai. Die teenwoordigheid van senior verteenwoordigers van die Wes-Kaapse regering sal sinvolle betrokkenheid met feesgangers oor ’n verskeidenheid kwessies moontlik maak.
Alle skedulering en besonderhede van die geleenthede is beskikbaar op die KKNK se webblad.