Verwelkingslied – Lené Vorster

Die dood is soos teaterspel. Dis ’n sikliese bevrediging. Aan die einde van die aand, as die gordyn sak, is die spel verby en die lewe wat eens op die planke was weg.

Die dood is soos teaterspel. Dis ’n sikliese bevrediging. Aan die einde van die aand, as die gordyn sak, is die spel verby en die lewe wat eens op die planke was weg. Dit wat uit die akteurs en skrywers en gehoor geblom het, verlep, en al wat oorbly is die hoop op ’n nalatenskap.

Breyten Breytenbach se Verwelkingslied vra elke kunstenaar se groot vraag: Wat gebeur met jou werk as die dood aan jou deur kom klop? Die toneelstuk is ’n gesprek tussen twee stemme – die aktrise en die meester – en hoe elkeen omgaan met die sterflikheid van die mens en die voortbestaan van kuns. Dis ’n metapoëtiese omgang met die lewe van die skrywer, en Breytenbach se werk self.

Verwelkingslied is Breytenbach se finale drama, ’n swanesang geskryf in 2024 vir die Suidoosterfees, en ’n bespiegelende uitkyk op die lewe en nalatenskap van die skrywer. Dit volg die gesprek tussen ’n ouer verhoogaktrise (Antoinette Kellermann) en die dooie meester (Dawid Minnaar), die skrywer van die werk waarmee sy besig is. Hul interaksies is komieklik somber en versier met maansiklusse en golfmotiewe, maar tref jou tog diep tussen die ribbes.

Beelde van sterflikheid en die self, wat dikwels te voorskyn kom in Breytenbach se werk, dra verder die skrywer se denke oor die dood treffend oor. Die meester-skrywer speel god: hy is alomteenwoordig en sonder hom bestaan die lewe op die verhoog nie.

Verwelkingslied is ’n rou, eerlike uitkyk op die ruimtes van teater, skryfkuns en Suid-Afrika deur die oë van ’n skrywer en digter wie se nalatenskap nog vir jare ’n blywende impak sal hê. Breytenbach se laaste kommentaar op die wêreld waarin hy homself bevind, en die kuns wat hy daaruit maak, is ’n spieël wat uitgehou word sodat die skrywer homself daarin kan sien. Dit is ’n afskeidsbrief, en ’n pragtige een.

Titel: Verwelkingslied
Met: Antoinette Kellermann en Dawid Minnaar
Regie: Marí Borstlap
Tot: 4 April