In die stikdonker teater val die kollig net op hom. Op die verhoog is daar net ’n vleuelklavier en Nataniël geklee in ’n bloedrooi teatergordyn-agtige rok. Dan begin hy sing. Dis dramaties en feestelik en so fabulous.
Sooibrand is ’n kabaret-en-komedie-feesdebuut soos net Nataniël dit kan doen. Dis eerlik en skerp en skreeusnaaks. Met klavierbegeleiding deur Charl du Plessis en teatrale kostuumontwerp deur Floris Louw, is dit ’n opvoering wat jou net wil laat terugkom vir meer. Du Plessis skep deur sy klavierwerk ’n dramatiese atmosfeer op die donker verhoog en laat Nataniël net nog meer uitstaan.
Tussen kabaretliedjies – van bekendes tot selfgeskrewe liedjies – vertel Nataniël stories van ongemak en ongeloof oor lugballonne, winkelsentrums en die internet-era. Elke storie kom met ’n nuwe ongelooflike uitrusting: blinkertjiebaadjies of ’n helderrooi valle-rok of ’n hemp met moue wat tot op die verhoogvloer hang. Hy vertel elke storie met net soveel flair en vreugde as die uitrusting wat hy aanhet.
Onder die kollig en komedie is daar steeds die wonderlike egtheid van Nataniël. Sy stories het karakters wat ons almal ken, kerktannies en winkelassistente en blommemeisies. As die gehoor nie hardop geskater het nie, het hulle breed geglimlag. Daar was nie ’n oomblik se verveeldheid nie.
Nataniël is een van daardie karakters – want dit is hy beslis – wat ons al vir jare ken en net meer ikonies raak met tyd. Sooibrand is ’n viering van sy besonderse musiektalent en skerp sin vir humor. Al gaan kyk jy dit net vir die ongelooflike uitrustings, Sooibrand is ’n fees in sigself.
Titel: Sooibrand
Met: Nataniël en Charl du Plessis
Tot: 4 April