Wat doen jy as jy nie kan aanbeweeg nie? Hoe maak jy met rou wat jy nie kan laat gaan nie?
Jy bou ’n kunsuitstalling uit Weense worsies en dra dit aan jou oorlede ma op. Daarna probeer jy ’n meisie daarmee beïndruk. Hoe anders?
Akrasia is ’n (baie letterlike) rou verhaal van verlies en liefde, en hoe ’n mens daarmee omgaan. Reuben (Heinrich Wentzel) is ’n jong kunstenaar wat ter herdenking van sy ma se dood ’n kunsuitstalling, getitled Rou Moeder, aanbied. Sy planne vir afskeid word egter omvergewerp as Candice (Ancois Bodenstein) by die deur inloop.
In liefdesverhale hoop ’n mens dikwels vir tasbare energie en oulike aangetrokkenheid tussen karakters. Dis nie die geval in Akrasia nie. Hierdie twee karakters is lompe mense en amper pynlik ongemaklik in mekaar se teenwoordigheid. Hul vreemdheid teenoor mekaar skep ’n onderliggende spanning op die verhoog, maar albei steek iets weg en nie een wil dit erken nie.
Wentzel dra sy karakter se smart met sjarme – hy is skerp, maar sy rou lê diep. Bodenstein vertolk met sekerheid ’n jong meisie wat oor haar woorde struikel. ’n Mens kan die vreemde Engelse meisie net nie vertrou nie, en tog is daar ’n kwesbaarheid aan haar.
Smart is ’n absurditeit wat jou soms vreemde dinge laat doen, en dit kom duidelik deur in die regisseur en medeskrywer Kristen Fichardt se Akrasia. Die woord self verwys na die aksie om iets te doen wat jy duidelik weet jy nie behoort te doen nie.
Akrasia is ’n spel van die kwesbare absurde; ’n gebotterde rolletjie van verontrusting en wantroue.
Titel: Akrasia
Met: Heinrich Wentzel en Ancois Bodenstein
Regie: Kristen Fichardt
Tot: 31 Maart