Hartsbriewe – Lené Vorster

As die tannies eers begin huil want dis so mooi, dan moet jy weet… 

As die tannies eers begin huil want dis so mooi, dan moet jy weet… 

Hannes van Wyk se Hartsbriewe is ’n stroperige cliché, amper soos teater met geverfde padstalversierings of soetsappige toesprake by troues. 

Onder klavierbegeleiding van Coenraad Rall lees Van Wyk liefdesbriewe vir die liefdes wat die toets van die tyd deurstaan. Dis elegieë aan verlore liefde, liefde wat nog mag kom, en alles tussenin. Daar is briewe geskryf aan sy ma, sy hond, en sy gay beste vriend, maar ook van ’n ma aan haar oorlede kind en ’n brief van ’n boer aan sy grond.

Onder al die stroop en versiersuiker lê daar tog ’n rou vertoning met hart. Van Wyk se briewe het meeste van die gehoor (en homself) in trane gehad. Dit spreek tot die verlange en vreugde van liefhê, en verwoord die hartseer en mooi wat daarmee saamkom. Hartsbriewe bedien Van Wyk se eie ervarings met die liefde op ’n porseleinkoekbordjie, en die gehoor verorber elke krummel daarvan. 

Tussen die trane was daar ook komiese oomblikke. Rall se falsetto-stem in een van die briewe het gesorg vir ’n skaterende gehoor, en ’n humoristiese vertelling van skoolkinders se vloekwoorde het almal laat glimlag. Gedeelde ervarings van lag en seer, al is dit hoeveel van ’n cliché, oorbrug tog die gaping tussen gehoor en verhoog.

Die moeilikheid met woorde is: as jy hulle nie sê nie, mag jy dalk nooit weer die kans kry nie. Hartsbriewe spreek tot die soetsappigheid van die liefde en die feit dat ons uiteindelik nie daarsonder kan klaarkom nie.

Titel: Hartsbriewe
Met: Hannes van Wyk en Coenraad Rall
Teks: Hannes van Wyk en Desiré Gardner
Tot: 1 April