Deur Liesel le Roux
Feesgangers sal Hans en sy uitsonderlike foto’s ken, die man met die kamera wat geruisloos tydens produksies ’n saal binnekom, foto’s neem, en dan net so stil weer verdwyn.
Hans was op sy dag een van Suid-Afrika se voorste middelafstandatlete en ’n uitmuntende 1 500 m-atleet. Die Suid-Afrikaanse rekord vir seuns o. 17 wat hy in 1982 opgestel het, staan steeds.
Hans, wat grootgeword het op die Van der Veen-familieplaas in die Kangogrotte-omgewing, vertel hy is vernoem na ’n Nederlandse regsgeleerde, Hans Verdam, wat met ’n verlangse Duitse familielid van die Van der Veens getroud was. Die Verdams het in die vroeë 1970’s na Suid Afrika geïmmigreer en hulle op Oudtshoorn gevestig, en dit was by dié einste naamgenoot van hom wat Hans sy eerste kamera geërf het. Toe hy egter die film van die eerste foto’s wat hy met dié kamera geneem het laat ontwikkel, was daar nie foto’s nie en hy moes by die destydse Schoemans Radio hoor die kamera is stukkend …
“Maar ek het hierdie ding gehad dat ek foto’s wou neem, en toe tydens ’n rugsak-vakansie in Europa middel 1991 het ek vir my ’n Nikon FM2 in Duitsland gekoop. Dit was ’n kamera wat my gedwing het om fotografie behoorlik onder die knie te kry. Die verkoopsman se woorde aan my was: ‘As jy dié kamera koop, gaan jy leer van fotografie, want daar is niks outomaties aan die kamera nie!’ ”
Min het Hans geweet hoe ’n groot rol foto’s nog in sy lewe sal speel.
“Ek het in daardie stadium in Johannesburg gewoon en was bevoorreg om van 1992 tot begin 1994 betrokke te kon raak by die Markteater se fotografiese stigting, die Market Photo Workshop, waar ek talle kursusse kon volg en baie geleer het by kenners soos TJ Lemon en David Goldblatt. TJ was die direkteur van dié program wat bekend gestaan het as een van die land se belangrikste instellings vir die opleiding in dokumentêre fotografie.”
Diegene betrokke by die Market Photo Workshop was inspirerend en interessant, vertel Hans. “In daardie stadium van die oorgang na demokrasie in Suid-Afrika het heelparty exiles teruggekeer na die land. Ek onthou Margot Jansen het daar gewerk, daar was mense wat die gesogte World Press Photo-toekenning gewen het, terwyl David Goldblatt bekend was vir sy foto’s waarmee hy Suid-Afrikaners binne die politieke landskap van die apartheid-era gedokumenteer het.
“Daar was mense soos die fotograwe Gideon Mendel, James Nachtwey, Ken Oosterbroek en ander kenners saam met wie ons ’n bier of koppie koffie kon drink en na kon luister wanneer hulle praat oor hulle werk.
“Dit was ’n amazing time en ’n amazing groep mense. Om saam na Soweto en Alexandra te kon gaan om foto’s te neem, het ’n hele nuwe wêreld vir my as boerseun van Oudtshoorn geopen, ’n wêreld wat ek nie geweet het bestaan nie.
“Daar was iets van ’n emerging future in daardie tyd. En ek kon saam met hierdie ongelooflike kreatiewe mense werk – ons het letterlik nagte in die donkerkamer deurgebring.
“Ek was in daardie stadium naby die einde van my MA-graad-studie in kliniese sielkunde en moes nog net my skripsie afhandel. Maar ek het terselfdertyd by die Johannesburg-gevangenis as kliniese sielkundige gewerk en ook nog atletiek afgerig – my lewe was nog altyd so dat ek ’n klomp goed gelyktydig doen! Die uiteinde daardie jaar was dat ek onbetaalde verlof moes neem om my skripsie betyds klaar te maak …”
Die Arts Alive-fees wat in September 1993 in Johannesburg begin is, was Hans se eerste blootstelling aan ’n kunstefees, ’n ervaring wat hy sê vir hom kosbaar was toe die KKNK twee jaar later op Oudtshoorn begin het.
“Ons studente het die opdrag gekry om die Arts Alive-fees te dek en daaruit te leer. Ek het onder meer foto’s van die nasionale simfonieorkes, William Kentridge en uitstallings by die Johannesburg-kunsmuseum in Joubertpark geneem. Dit was sulke belangrike blootstelling aan dokumentêre fotografie, wat vereis dat jy byvoorbeeld sonder ’n steurende kameraflits moet foto’s neem, moet poog om onopsigtelik te wees, en niks vooruit kan stileer nie.”
Teen die einde van daardie jaar het Hans toestemming by die Johannesburg-gevangenis gekry om ’n uitstalling van dokumentêre foto’s te doen oor ’n dag in die lewe van ’n gevangene, en hy kon tydens ’n opedag vir gevangenes se familielede iets wys van die lewe in ’n gevangenis.
Hans het nadat hy sy studie voltooi het in April 1994 teruggekeer Oudtshoorn toe. Hier het hy as kliniese sielkundige by die SANW se siekeboeg begin werk.
Maar toe volg ’n telefoonoproep van ’n vriend van Hans, Dominique de la Croix, wat teruggekeer het Suid-Afrika toe nadat hy as bourekenaar in Burundi gewerk het.
“Hy bel my uit Bloemfontein en sê: Wat van ons begin ’n fotografiese besigheid? En toe gebeur dit – begin Maart 1996, net ’n week voor die KKNK, open ons The Photo Workshop op Oudtshoorn.
“Dit was finansieel ’n groot uitdaging vir ons en baie taai – ek en Dominique moes aanvanklik in ons blyplek ’n dubbelbed deel, want ons het niks anders gehad om op te slaap nie …
“Ek moes ook nog my studieskuld afbetaal en het nie geld gehad nie. Ons het daardie tyd net gewerk. Vieruur smiddags nadat ek klaar was by die SANW het ek winkel toe gegaan. Ons was oop tot agtuur, maar ek het gewoonlik tot middernag daar gebly.”
The Photo Workshop was van die eerste dag af betrokke by die KKNK.
“Die groot ding vir my en Dominique was aanvanklik om te kon oorleef. Ons is gelukkig goed ondersteun deur fotograwe wat by ons foto’s kom ontwikkel het.
“Kunstenaars en regisseurs het ons begin vra om foto’s te neem by produksies, en ons het uit ons eie die strate ingevaar en foto’s geneem wat mense dan by ons kon koop.”
’n Hoogtepunt in daardie eerste jaar van die KKNK was toe hy gevra is om foto’s te neem van Athol Fugard se produksie Valley Song– geskryf en geregisseer deur Fugard en oorspronklik ook deel van die rolverdeling voordat Marius Weyers by hom oorgeneem het.

“Wat my opgeval het by van die topproduksies, was hoe mooi die mense met mekaar praat. Ek dink aan mense soos Mannie Manim en Marthinus Basson. Jy het ’n coach nodig wat daai iets uit jou kan trek wat jy nie weet waartoe jy in staat is nie.
“En daardeur betrek hulle jou as fotograaf ook!”
Hans sê dit was in die eerste jare van die fees baie moeiliker om met die kameras van destyds foto’s tydens optredes te neem. “Dit het in ’n stil teater geklink of jy ’n geweerskoot afvuur wanneer jy ’n foto neem!”
Behalwe dat kameras deesdae stiller is, kan ’n fotograaf ook nou baie meer en makliker foto’s neem as in die ou dae met die duur films wat kort-kort vervang moes word.
“Vaardighede soos komposisie, beligting en die regte oomblik is steeds belangrik. Ek geniet dit om ’n bietjie in die skaduwee terug te trek en dinge te laat ontvou en oomblikke te probeer vasvang – ek is doodeenvoudig mal oor teaterfotografie.
“Dit vereis egter lang konsentrasie – dis waar sielkunde en fotografie vir my by mekaar aansluit. Jy is die hele tyd besig en wag vir die oomblik wat jy kies om af te neem en die storie te vertel; om die essensie te probeer vasvang.
“Ek het ook al ervaar dat ek soms instinktief begin foto’s skiet, asof jy bloot die boodskapper word van dit wat jy voor jou sien afspeel.
“En ja, dit wat jy deur die lens sien, affekteer jou dikwels emosioneel – ek het al ervaar dat my kamera sopnat was van die trane …”
Die jaar 2010
Hans is in 2010 deur die KKNK genader om meer betrokke te raak by die fees. Hans is sedertdien jaarliks amptelik as feesfotograaf betrokke by die fees.
2011 was ook die jaar van ’n besonderse fotografieprojek wat Hans, met die hulp van die kunste-ontwikkelingsbestuurder van die fees, Linda Marques, geloods het. Die Optelgoed-projek het straatkinders van Oudtshoorn, asook jeugdiges wat op die Oudtshoorn-stortingsterrein gebly het, blootgestel aan fotografie.

Die kinders het ná ’n basiese kursus in fotografie die geleentheid gekry om met weggooibare kameras hul lewens te dokumenteer. Die geesdrif en betroubaarheid van die kinders en die resultaat van hulle foto’s het almal se asems weggeslaan.
“Ek het ongeveer 30 van die beste foto’s deur die studente uitgedruk – die eerste twee persone aan wie ek dit gewys het, het albei gedink dit is foto’s wat ek geneem het,” het Hans destyds gesê.
Die projek is in 2011 suksesvol herhaal, dié keer met kinders van die Kliplokasie, ’n nedersetting buite Oudtshoorn.
Die twee projekte het ook sy lewe verander, vertel Hans.
“Daardie twee projekte en die bevrediging wat ek daaruit gekry het, is wat veroorsaak het dat ek in 2013 weer teruggekeer het sielkunde toe.”
Hans was sedert 1 Mei 2013 tot met sy aftrede einde Januarie 2026 die departementshoof van sielkunde by die SANW se Health Centre South Coast. Hy is steeds werksaam as kliniese sielkundige op Oudtshoorn. Sy kamera is ook altyd byderhand.
En feestyd verskuif die fokus, maar ook nie heeltemal nie, want wat op die verhoog gebeur, is deel van sy vermoë om ’n fyn waarnemer te wees, dinge raak te sien: En dan uiteindelik daardie oomblik vas te vang wat die mens ten diepste raak.
30 jaar deur ’n lens
In dié feesvieringsjaar kyk ons terug na duisende produksies wat aangebied is en derduisende kunstenaars wat opgetree het. Elkeen wat betrokke was of wat die feeste bygewoon het, het hul eie hoogtepunte. Om hoogtepunte van die fees oor die jare te probeer uitsonder, is haas onmoontlik. As ’n huldeblyk aan die fees kyk ons deur die lens van ’n fotograaf wat van die beginjare af betrokke was: Hans van der Veen.
Hans ontvang vanjaar ’n spesiale Kanna vir sy diens aan die KKNK. Wat oor die volgende bladsye volg is maar enkele foto’s uit ’n argief van letterlik duisende foto’s. Dis nie noodwendig ikoniese produksies wat uitgelig word, of al die kunstenaars wat oor die jare die mees waardevolle bydraes gemaak het nie – dit is ’n visuele huldeblyk aan die kuns van fotografie en argiefmateriaal uit ’n enkele fotograaf se belewenis. Van die foto’s is vir die eerste maal ontwikkel danksy negatiewe wat ontdek is.
Hans se kamera was reeds vir die eerste KKNK in 1995 in aksie, nadat hy vir Antoinette Pienaar foto’s van haar produksie, Krotoa, wat op Oudtshoorn gedebuteer het, geneem het (bo). Dit was die begin van ’n jare lange verbintenis met die fees, waartydens talle foto’s geneem is. In 1996 het hy onder andere weer vir Antoinette Pienaar foto’s geneem (onder).

