Oor die eeue heen woeker die mensdom onder dieselfde maan en sterre. Ons sterf in dieselfde grond as dié wat voor ons geloop het. Elke gemeenskap dra die stories van hul stof saam waar hulle gaan, en dis juis wat Esmé Martinus en Miché van Wyk se plekspesifieke dansteaterproduksie, Gat, uitlig.
Die stuk sentreer om die Draghoender-familie en is ’n verhaal van ’n uitgelewerde gemeenskap se verlies en vreugde. Onder die sterrehemel van die Klein-Karoo nooi hulle jou na Okiep in die Noord-Kaap om te deel in die seer van ’n begrafnis en saam met hulle daaroor te rou. In die warm oranje lig word jy uitgenooi om die plekke waar die gemeenskap se hart en mense lê – Tamatiebult, White City, Gaatjiesrus, Brakputs – te leer ken.
Een ding waarvan daar nie ’n tekort is in die Klein-Karoo nie, is dit stof, en Gat maak flink gebruik van die rooibruin aarde om verganklikheid en verlies oor te dra. Dit is ’n gemeenskap van die grond, waar mynwese lewens eis en kos nie altyd genoeg is nie.
Die stof word ’n uitbeelding van die gemeenskap se swaar en soet. Benewens die skrywers Miché van Wyk en Esmé Martinus word Arnold Klassen en die dansers Faroll Coetzee, Georgia Julies, Manon-Lee Saal, Druwayne Strauss en Keanu Samuels amper een met die grond. Hulle gooi dit in emmers oor mekaar, rol daarin of skop dit in wolke in die oranje naglug in. Hul kwesbaarheid en verganklikheid as individue, maar ook as ’n gemeenskap, word sterk beklemtoon.
Die dansers dra die emosies van die gemeenskap oor. Soms is dit opgewek en word daar gedans dat die stof spat, ander kere is dit stadig en melancholies terwyl daar hartseer gesing word. Gat is ’n spel opgedra aan die seer en vreugde van die lewe in Okiep, en Martinus en Van Wyk kry dit ongetwyfeld reg. Dit is rou, kwesbaar en die tipe spel waaroor daar nog baie gepraat sal word.
Titel: Gat
Met: Miché van Wyk, Arnold Klassen, Faroll Coetzee, Georgia Julies, Manon-Lee Saal, Druwayne Strauss en Keanu Samuels
Regie: Byron Klassen
Tot: 30 Maart