Elke storie dra by totSA se narratief

Ons verwelkom jou met trots by die 30ste KKNK in Oudtshoorn. As hoofborg is dit vir ons by Absa ’n besondere voorreg om ons vennootskap met hierdie ikoniese kunstefees voort te sit en saam ’n nuwe hoofstuk in die merkwaardige erfenis daarvan te vier.

Ons ondersteun die KKNK reeds vir dekades, en ons verbintenis daartoe is gewortel in die bevordering van kuns en kultuur as dryfkrag vir groei, transformasie en gemeenskapsbou. Die fees is ’n viering van die unieke gees van die Klein Karoo – ’n plek waar stories vertel word, uiteenlopende stemme gehoor word en kreatiwiteit grense verskuif.

In 2026 bied die KKNK weer ’n uitsonderlike program wat gehore uitnooi om hulself te verdiep in ’n ryk verskeidenheid drama, komedie, musiek, visuele kuns en leefstyl-ervarings. Hier ontmoet kunstenaars en gehore mekaar, word nuwe idees gebore en blom kulturele uitdrukking.

Ons betrokkenheid bou voort op ons oortuiging dat jou storie tel. Hierdie eenvoudige maar kragtige uitgangspunt herinner ons dat elke stem waardevol is en dat elke ervaring bydra tot die groter narratief van wie ons as land is. Deur ons vennootskap met die KKNK bevestig ons ons verbintenis tot inklusiwiteit, kreatiewe uitnemendheid en die ondersteuning van platforms wat ekonomiese en kulturele geleenthede ontsluit.

Ons sien daarna uit om jou in Oudtshoorn te verwelkom sodat ons saam kan lag, kan leer, kan feesvier en nuwe herinneringe kan maak. Dankie vir jou rol in die voortgesette sukses van hierdie besondere fees. Mag 2026 se KKNK jou inspireer, verras en met ander verbind.

Sydney Nhlanhla Mbhele
Hoof van bemarking en korporatiewe
aangeleenthede: Absa Groep