Teen die agterdoek van die verhoog hang daar ’n enorme skets van Eugène Marais. Indien jy die skrywer in die oë kyk, sien jy die geskiedenis van ’n komplekse man wat in ’n styd tussen sy taal, identiteit en kuns gewikkel was. Dis Die siel van Eugène Marais, en jy staar reguit daarin.
Dié kaberet is ’n musikale reis deur die lewe van een van die Afrikaanse taal se grootste literêre ikone. Ditvertel die storie van die uitgesproke Engelse prokureur-digter-dokter met die Afrikanerhart, en hoe hy uiteindelik as gebroke en verslaafde man gesterf het. Dis ’n welbekende verhaal van verlies en verkenning, maar die man daaragter dalk minder so.
Daniel Anderson vertolk die rol van verteller, maar klim in tonele self ook in Marais se skoene. Anderson klim amper soomloos in die karakter van Marais in – ’n gemoedsverandering of ander woorduitspraak, en die digter op die doek beweeg skielik al singend op die verhoog rond. Hy gee ’n hart en siel aan die skrywer en dra daarmee ’n tragiese emosionaliteit aan die gehoor oor.
Anderson karakteriseer ook Marais se morfienverslawing. Nes sy sprong tussen verteller en skrywer word verslawing ook as ’n derde karakter uitgebeeld. Dis ’n donker, treffende omgang met Marais se realiteit en soeke na identiteit en aanvaarding.
Die musiek ondersteun verder die diep emosionele vertelling van Marais se siel en wese. Paul Ferreira se klavierspel en Anderson se stem dra die stryd, maar ook die prag, van Marais se werk oor in klaaglied-agtige toonsettings van sy gedigte, opgewekte deuntjies, en oorspronklike teks deur Amanda Bothma. Daar is ’n kontras wat tref in Anderson se uitbeeldings van verslawing teenoor die vrolike musiek wat daarmee saamgaan.
Anderson word die siel in die oë wat agter hom oor die gehoor tuur. Die siel van Eugène Marais dra die multi-dimensionaliteit van digterskap en menswees uitstekend oor, en gee jou ’n nuwe waardering vir Marais en sy werk.