Crybaby is ’n produksie wat jou laat lag en jou oë oopmaak oor die belangrikheid om kinders se onskuld te beskerm. Die storie van ’n driejarige wat ná blootstelling aan nuus in ’n 63-jarige man verander, lewer satiriese kommentaar op die wêreld waarin ons leef.
Frank Opperman is uitstekend as die groot baba Samuel en sy humoristiese energie gee die karakter lewe. Hy laat die gehoor sy hartseer voel deur te huil wanneer hy verwerp voel deur sy ouers omdat hy gesien word as ’n “ou man”. Hy vertel ook hoe hy by sy ouma in ’n aftreeoord moes gaan bly.
Die produksie raak aan morele kwessies soos oorlog, geweld en die rol van die media, maar doen dit op ’n manier wat nie prekerig of swaar is nie. Die gebruik van humor en satire maak dit maklik om die boodskap te ontvang, en die gehoor word uitgenooi om te dink oor die impak van nuus en nuusgebeure op onskuldige mense.
Die tegniese uitvoering is kreatief en effektief, met beligting en toneelwisselings wat die gehoor vinnig van die tuin tot by die dagsorg neem. Die wyse waarop die stoele rondgeskuif word, gebeur op ’n gemaklike manier en neem nie die aandag van die karakters af weg nie. Die akteurs Wian Taljaard en René Cloete speel Samuel se ouers, en Gantane Kusch vertolk verskeie rolle soos die dokter, die nuusaanbieder en die hoof van die dagsorg.
Maar wat jou die meeste sal tref, is hoe die produksie die gehoor laat wonder of die wêreld nog enige onskuld oorhet. Is ons so gewoond aan die nuus en die geweld dat ons ons kinders se onskuld steel? Dit is ’n vraag wat my bygebly het lank nadat die gordyn gesak het.
Titel: Crybaby
Met: Frank Opperman, Nicole Holm, Wian Taljaard, René Cloete en Gantane Kusch
Regie: Carla Smith
Tot: 4 April