Digkuns
Waterman van Herman Wasserman is ’n toeganklike bundel waarin die digter in soepel taal sy persoonlike ervarings verwoord én in gesprek tree met digters wat hom voorafgegaan het. Tom Dreyer se Brief op veertigduisend voet sluit natuurgedigte en reisgedigte in wat die mens se interaksie met sy omgewing belig. In hierdie bundel dui ooptes en ongekarteerde gebiede op die onsekerheid en prekêre avontuur van die post-postmoderne mens, en menslike verhoudinge word in roerende liefdesgedigte verbeeld. In Prins ontleed Ryan Pedro die kompleksiteit van manlikheid; die oomblikke van teerheid word gevier en die vernietigende word gekritiseer. Die liminale, plofbare ruimte waarin die verteller homself as digter en as coloured man bevind, word weerspieël.